Bible Society of South Africa

Jesus kom weer - 3 Julie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

12Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het.

DIE OPENBARING 22:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die gelowiges wat geleef het toe Johannes die openbaring ontvang het, en ook selfs van Jesus se oorspronklike dissipels, het waarskynlik verwag dat die wederkoms nog in hulle leeftyd sou plaasvind. Jesus se uitspraak hier in Openbaring 22:12 laat ‘n mens verstaan waarom hulle so gedink het – “Kyk Ek kom gou”. Ook Paulus verwag blykbaar die wederkoms redelik gou wanneer hy in 1 Tessalonisense 4:17 oor die wederkoms skryf: “…daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet.”

Mense in die eerste eeu na Christus het ‘n ander siening oor tyd as ons gehad. Hede, verlede en toekoms is anders ervaar en hulle sou nie aan die wederkoms as iets daar ver in die toekoms dink nie. ‘n Paar jaar om die evangelie van Jesus Christus te versprei voordat die wederkoms plaasvind, was moontlik hoe hulle dit gesien het. Dwarsdeur Handelinge sien ‘n mens hierdie amper fanatiese ywer om die boodskap van Christus tot aan die uithoeke van die bekende wêreld te versprei, sekerlik ook om so veel moontlik “siele te wen” voor die wederkoms sou plaasvind.

So wanneer sal dit waarskynlik wees? Niemand weet nie. Die Bybel noem wel dat dit onverwags sal wees, maar meer weet ons eintlik nie. Wat ek wel weet is dat die wederkoms in ‘n sekere sin net so naby is as die dag van my dood. Daarna kan aan jou saligheid niks meer verander word nie.

In my sitkamer hang ‘n skildery wat vader Claerhout spesiaal vir my geskilder het. Dit is van die wederkoms en die oorheersende kleure is blou en wit. In die skildery is daar die sentrale figuur van Christus met hande seënend uitgestrek. Rondom die Christus figuur is ‘n aantal gesigte. As jy mooi kyk is een van hulle vader Claerhout se eie gesig. Toe ek weer eendag by hom besoek afgelê het, het ek hom daarna gevra. “Natuurlik” het hy gesê, “is dit my gesig. Ek verwag ook mos die wederkoms van onse Here.” Wat kan ‘n mens meer oor die wederkoms wil weet of sê as – ek verwag ook dat Jesus weer sal kom en dat ek deel sal wees van die juigende skare.

Gebed: Saam met gelowiges deur die eeue heen wil ons ook sê: Amen! Kom, Here Jesus! En baie dankie dat ons reeds weet dat die genade van ons Here Jesus nou reeds by ons almal is. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS