Bible Society of South Africa

Een ding verander nooit - 16 Mei 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

Loof God deur Jesus Christus

7Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het.

8Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

HEBREËRS 13:7-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die boek Hebreërs word ons daaraan herinner dat dit belangrik is om gelowige leiers wat ons voor gegaan het, te onthou en ook hulle voorbeeld na te volg. Hulle lewens en leringe dien as voorbeelde van ‘n standvastige geloof en toewyding aan God. Maar selfs belangriker, wys hierdie Skrifgedeelte ons na Jesus Christus wat die volmaakte voorbeeld van onwrikbare, onveranderlike geloof is.

Wanneer ons nadink oor die lewens van diegene wat ons so getrou gedien en onderrig het, word ons dikwels deur hulle toewyding, opoffering en hulle liefde vir God geïnspireer. Ons sien die vrug van hulle geloof en die impak wat hulle op die lewens van ander gehad het. Hulle voorbeeld moedig ons aan om in hulle voetspore te volg, en hulle geloof en toewyding aan God na te volg.

Tog is dit egter uiters belangrik om te onthou dat in die eerste plek berus die grondslag van ons geloof nie op menslike leiers nie, maar wel op Jesus Christus. Hebreërs 13:8 sê dat Jesus Christus gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is. Hy is die onveranderlike Rots op wie ons ons lewens kan bou. Sy leringe, liefde en getrouheid bly altyd dieselfde in ‘n wêreld wat voortdurend verander.

In ‘n samelewing wat ons dikwels aanmoedig om ons waardes te kompromiteer, die gees van die tyd aan te hang of tydelike bevrediging na te jaag, moet ons eerder die geloof van diegene wat ons voor gegaan het, navolg. En in die kern van hierdie geloof is ons onveranderlike Verlosser, Jesus Christus.

Terwyl ons daarna streef om die geloof van getroue leiers na te volg, moet ons ons oë op Jesus gerig hou. Kom ons leer uit sy lewe, leringe en karakter. Mag sy onwrikbare aard ons inspireer om vas te staan in ons geloof, geanker in sy onveranderlike liefde en waarheid.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir gelowige, getroue leiers wat ons uit u Woord geleer en vir ons gewys het wat dit beteken om in geloof te leef. Maar bo alles, dankie vir Jesus Christus. Gee aan ons die krag om sy voorbeeld te volg en, selfs te midde van onsekerheid, vas in ons geloof te staan. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS