Bible Society of South Africa

Seisoene en ritmes - 15 Mei 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

PREDIKER 3

Elke ding het sy vaste tyd

1Elke ding het sy vaste tyd,

elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:

2daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe,

'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek,

3'n tyd om 'n lewe te neem, 'n tyd om 'n lewe te red,

'n tyd om af te breek, 'n tyd om te bou,

4'n tyd om te huil, 'n tyd om te lag,

'n tyd om te treur, 'n tyd om van blydskap te dans,

5'n tyd om klippe weg te gooi, 'n tyd om hulle bymekaar te maak,

'n tyd om te omhels, 'n tyd om weg te bly van omhelsing af,

6'n tyd om aan te skaf, 'n tyd om te laat wegraak,

'n tyd om te spaar, 'n tyd om weg te gooi,

7'n tyd om te skeur, 'n tyd om toe te werk,

'n tyd om stil te bly, 'n tyd om te praat,

8'n tyd om lief te hê, 'n tyd om te haat,

'n tyd vir oorlog, 'n tyd vir vrede.

PREDIKER 3:1-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die lewe is gevul met seisoene en ritmes. Ons beleef vreugde en hartseer, groei en verlies, die begin en einde. Soms is dit ‘n uitdaging om die verskillende seisoene te aanvaar en te navigeer. Ons bevraagteken soms hoekom sekere dinge in ons lewens gebeur en vind dit moeilik om die tydsberekening daarvan te begryp.

Tog, in Prediker 3, een van my geliefkoosde gedeeltes in die Bybel, word ons daaraan herinner dat elke ding en aktiwiteit in hierdie wêreld sy vasgestelde tyd het. Daar is ‘n goddelike orde en doel met elk van die verskillende dinge wat ons beleef. Ons mag dit miskien nie altyd waardeer of verstaan wanneer dit gebeur nie, maar God is in beheer van elke ding wat met ons gebeur.

In tye van hartseer en rou vertroos Hy ons en bring genesing. In tye van swaarkry, gee Hy aan ons krag en leiding. In tye van blydskap is Hy saam met ons bly. En in tye van onsekerheid gee Hy aan ons wysheid en vrede.

Kom ons leer om die verskillende seisoene en aktiwiteite in ons lewens aan te gryp, en te vertrou dat God deur elkeen van hulle werk. Terwyl ons verskillende ondervindings beleef, kom ons vra vir wysheid om te kan onderskei wat die regte reaksie en optrede is. Mag ons troos en versekering vind in die wete dat die tydsberekening en doel van ons lewens in God se hande is.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die wysheid in die boek Prediker. Help ons om die verskillende seisoene in ons lewens aan te gryp, wetende dat U ‘n plan vir elkeen van ons het. Gee dat ons u volmaakte tydsberekening sal vertrou en dat ons deur dit alles vrede sal vind. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS