Bible Society of South Africa

Van ewigheid tot ewigheid - 17 Mei 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

Van ewigheid tot ewigheid is U God

1'n Gebed van Moses, die man van God.

Here, U was vir ons 'n toevlug

van geslag tot geslag.

2Voordat die berge gebore is,

voordat U die wêreld voortgebring het,

ja, van ewigheid tot ewigheid is U God!

PSALMS 90:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dikwels op ‘n Maandagoggend gaan sit ek by my lessenaar, maak my e-posse oop, en is onmiddellik oorweldig deur al die take wat my aandag verg. My te doen-lysie word ook langer en langer soos die week vorder, en ek voel dikwels angstig en onseker oor hoe ek ooit alles gedoen gaan kry.

In die gewoel van my daaglikse lewe is dit maklik om in die tydelike en verbygaande dinge van hierdie wêreld vasgevang te word. Die verbygaande oomblikke en die onsekerhede van die toekoms oorweldig my soms. Psalm 90:2 herinner my egter dat my God van ewigheid tot ewigheid is.

Voordat die grondslag van die wêreld gelê is, voordat die berge gebore is, en voordat tyd soos ons dit ken, begin het, het God reeds bestaan. Hy is die Alfa en die Omega, die begin en die einde. Sy teenwoordigheid en almag oortref tyd en ruimte.

Hierdie waarheid vertroos my opnuut en stel my gerus. Te midde van my lang te doen-lysie en die onsekerhede van die lewe, het ek ‘n God wat altyd dieselfde is. Sy getrouheid, sy liefde en sy beloftes is vir ewig. Hy is onveranderlike en ewig en ek kan Hom volkome vertrou.

Wanneer jy hierdie week oorweldig word deur die lewe, onthou dat ons God vir ewig is. Laat ons Hom bo alles soek en Hom vertrou om ons verlede, hede en toekoms in sy hande te hou.

Gebed: Ewige en onveranderlike God, wanneer die eise van die lewe my oorweldig, maak my opnuut bewus van u ewige teenwoordigheid. Help my om U te vertrou want U is onveranderlik en help my om vrede in u ewige liefde te vind. Lei my om die veranderlike wêreld te hanteer, en rus te vind in die ewige hoop wat net in U is. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS