Bible Society of South Africa

Is jy goed vir die mense om jou? – 27 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

Die Christelike lewenswandel

1As broers moet julle mekaar altyd liefhê. 2Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.

HEBREËRS 13:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

40En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

MATTEUS 25:40AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ná Ivy Olsen se egskeiding jare gelede het sy saam met haar twee jong seuns na ’n klein woonstelletjie getrek. Haar salaris as ontvangsklerk by die dokter se spreekkamer was karig en daar was min kos in die huis.

Die oggend van “Thanksgiving”-dag in Amerika het Ivy met ’n swaar hart opgestaan. Hulle het slegs drie worsbroodjies in die huis oorgehad. Om te keer dat die gevoel van magteloosheid haar oorweldig, het sy besluit om haar seuns na ’n nabygeleë park te neem om daar te gaan speel.

Ná die piekniek, waar hulle die laaste broodjies geëet het, het Ivy en haar seuns begin huis toe stap. Die seuns het vertel hoe honger hulle was. Vir Ivy was dit soos ’n dolk deur haar hart omdat sy geweet het dat daar geen kos in die huis was nie. Ook geen geld om kos te gaan koop nie.

Aangekom by die woonstelgebou het hulle teen die trappe begin opstap. Skielik het ’n deur van een van die woonstelle op die grondvloer oopgegaan. ’n Bejaarde vrou met ’n breë glimlag het verskyn en Ivy en die seuns gestop en vir aandete by haar genooi. Alhoewel Ivy eers wou weier, het sy en haar seuns die uitnodiging aanvaar.

Met die intrapslag in die gasvrou se huis, het Ivy en haar seuns dadelik tuis gevoel. Dit was ’n gesellige aand langs ’n tafel wat kreun onder die heerlike kos. Ná ete het die gasvrou die oorskietkos vir Ivy in houers gesit wat sy saam met haar kon huis toe neem.

Die volgende oggend wou Ivy die vrou se houers terugneem en haar weer bedank vir die ete. Daar was geen antwoord nadat sy aan die deur geklop het nie. Ivy het besluit om deur die venster te loer. Tot haar skok was die woonstel dolleeg. Al die meubels was weg. Ivy is dadelik na die opsigter van die woonstelgebou om uit te vind wat van die vrou geword het. Nadat hy Ivy vreemd aangekyk het, het hy haar ingelig dat daardie woonstel toe reeds 10 tot 12 weke leeggestaan het.

Ivy se getuienis het my laat dink aan die woorde in Hebreërs 13:1-2 (1983-vertaling): “As broers moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” Ook in Matteus 25:40 sê Jesus: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

Soms gebruik God ons om goed te wees vir mense wat in die nood verkeer en soms stuur Hy engele om ons bewus te maak van sy goedheid en liefde vir ons. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U naby ons is wanneer ons swaarkry. Help my asseblief om my oë oop te hou vir geleenthede waar ek vandag goed kan wees vir die mense om my. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS