Bible Society of South Africa

Donker dieptes: Wanneer onsekerheid jou kwel - 15 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

PSALMS 23

4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

Ek hou daarvan wanneer ek weet waar ek met mense staan. Ek hou ook daarvan wanneer ek min of meer weet wat om te verwag van dinge by die werk en by die huis. Ja, ek is nie iemand wat daarvan hou om onkant gevang te word nie.

Ek is nie naïef nie. Nee. Ek besef die lewe is onvoorspelbaar en ons kan nie alles rondom ons beheer nie. Maar wanneer ek myself in ’n situasie bevind waar ek nie eintlik weet wat om te doen nie, kan dit my lewe se appelkar heeltemal omkeer.

Het jy jouself al ooit in ’n situasie bevind waar jy ’n besluit moet neem, maar albei opsies is ewe uitdagend? Maak nie saak watter paadjie jy kies nie, jy gaan iets moet doen wat onaangenaam kan wees, of iets wat moeilik is? Dis nie vir my lekker om so te voel nie. Ek verkies ook maar, seker soos enige ander mens, dat dinge maklik en reg moet verloop. Ek hou van “smooth sailing”.

Ha! Jy lag seker lekker, want dis nie hoe die lewe werk nie, né?

Onsekerheid is vir my een van die lewe se donker dieptes, want dit maak my bang. Ek is bang as ek nie weet hoe ’n besluit se uitkoms gaan lyk nie. Ek is bang vir die onbekende. Ek is bang vir gevolge wat ek nie noodwendig kan beheer nie. Ek is bang ek maak ’n fout of ek doen iets wat dinge vererger en nie oplos nie.

Psalm 23:4 is so eenvoudig, die boodskap so voor die hand liggend. God sal ons beskerm as ons deur moeilike tye gaan. God gaan nie toelaat dat ons alleen deur dit gaan nie. Hy ís daar. En die beste van als? Hy weet reeds wat volgende gaan gebeur en Hy gaan dan ook daar wees vir jou, maak nie saak wat nie.

Herinner jouself daaraan wanneer dinge donker begin voel.

Gebed: Here, hou asseblief my hand vas wanneer die onsekerheid van die lewe my onder kry. Help my om te onthou dat U my hand vashou wanneer ek bang is. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS