Bible Society of South Africa

Donker dieptes: Moeg vir moeg wees - 14 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

MATTEUS 11

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

MATTEUS 11:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek gaan nie jok nie, ek is moeg. Móég hoor. Ek is moeg want die jaar raak lank en daar is nog soveel om te doen voor daar ’n blaaskans wink.

Ek is moeg van lang ure se werk. Ek is moeg van lang tye in die verkeer sit. Ek is moeg van wasgoed doen en kosmaak en opruim. Ek is moeg van planne maak en reëlings tref en vooruit dink. Ek is moeg vir papierwerk. Ek is moeg van die heeltyd dink wat die regte ding is om te doen, die regte manier om e-posse en WhatsApps te beantwoord. Ek is moeg van datums en afsprake onthou. Ek is moeg van bekommer oor geld en toekomsdinge.

Ja, ek gaan nie vandag jok nie. Ek is moeg. Nie ondankbaar nie. Net moeg.

Is jy ook moeg?

Dikwels, wanneer ek moeg raak, voel ek moedeloos. En terwyl ek hier sit en dink oor hoe ontsettend moeg ek is, en ook bietjie moedeloos, is daar een Bybelvers wat in my kop draai: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” (Lees die 1983-vertaling van Matteus 11:28.)

Dis so vertroostend. Dis dan wat ek voor God gaan staan en sê: Help. Help my, want ek is moeg, Here. Lei my, want ek weet nie meer hoe om myself te help nie.

Vir my is dit ’n herinnering dat ek by God moet aanklop wanneer ek uitgeput en oorweldig voel – wanneer die lewe my begin lamlê en my kop nie meer plek het vir alles waaroor ek dink en my bekommer nie. Dan gee ek oor, want ek is bloot te moeg om self alles te probeer beheer en uitfigure.

Gaan na God toe, Hy sál vir ons rus gee.

Gebed: Here, dankie dat ek altyd na U kan draai as ek moeg raak. Dankie dat U daar is vir my wanneer die lewe en al sy eise my begin uitput. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS