Bible Society of South Africa

Donker dieptes: Jy is nooit alleen nie - 17 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

JESAJA 41

10Moenie bang wees nie, Ek is by jou,

moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.

Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,

met my eie hand red Ek jou.

JESAJA 41:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer ons deur moeilike tye gaan, voel ons dikwels eensaam, nie waar nie?

Ek dink daar is baiekeer ’n wanpersepsie dat ons die moeilike dinge in die lewe alleen moet aanpak. Die probleem hiermee is dat dit die donker dieptes net nog donkerder en dieper laat voel. Dis mos baie meer vreesaanjaend wanneer jy die onbekende, uitdagings en swaarkry alleen moet aanpak. Ek dink die vrees vir mislukking is dan ook soveel groter.

Wanneer ek deur moeilike tye gaan, is ek nogal geneig om myself te isoleer. Ek is geneig om te dink ek móét dit alleen oorkom. Ek wil nie ander mense betrek by my bekommernisse en worstelinge nie. Ek wil nie vir hulle ’n las wees wanneer ek swaarkry nie. Ja, ek klop dalk by God aan vir hulp, maar nie noodwendig by die mense rondom my nie.

Ons lees in die Bybel dat God altyd saam met ons gaan, dat Hy daar is vir ons wanneer ons bang en alleen voel, wanneer ons deur die donker dele van die lewe ons pad moet vind.

Tog kon ek nie help om nou die dag ook te dink dat ons nie moet vergeet dat God mense rondom ons gebruik nie. Hy stuur mense oor ons lewenspaaie met ’n doel. Hy plaas mense met raad en wysheid en slim planne in ons lewens om ons te help en te ondersteun wanneer dinge moeilik is. Soms moet ons net gewoon die hulp aanvaar. Soms moet ons net gewoon met iemand praat oor dit wat ons pla.

Dis okay om vir jou geliefdes, jou vriende en familie te sê wanneer die lewe druk. Hulle wil help. Meeste mense wat ek ken, wíl iets beteken vir ander mense. Hulle wíl help en ondersteun en vertroos. Soms moet ons dit ook toelaat.

Ons kan nie bid en vir God vra om ons te help en dan ignoreer ons die hulp wat Hy vir ons stuur nie. Ja, God se helpende hand kan op verskillende maniere en in verskillende vorme by ons uitkom.

So, wanneer jy dalk weer alleen voel, kyk mooi. Kyk rondom jou – God het heel waarskynlik lankal iemand gestuur om die pad saam met jou te stap. Jy het dit dalk nog net nie besef nie, want jy het gedink die antwoord gaan anders lyk.

Gebed: Vader, gee vir my die vrymoedigheid om op die mense rondom my te steun wanneer die lewe swaar raak. Help my om u hand ook raak te sien en te besef dat U my nooit sal los om alleen deur die donker tye te gaan nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS