Bible Society of South Africa

Moenie wraak neem nie - 24 Junie 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

Vergelding

38“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand.’ 39Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.

MATTEUS 5:38-39AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die volmaakte wêreld sou niemand mekaar seer gemaak het nie, elkeen sou sy naaste se belange bo sy eie gestel het. Hierdie wêreld bestaan na die sondeval nie meer nie. In ons wêreld het selfsug en eie eer oorgeneem. Wanneer ek ten alle koste op die troon van my hart wil sit, kry ander mense seer. Elkeen van ons het seerkry in ons lewens beleef aan die hand van iemand anders. Ons menslike reaksie is om die balans te wil herstel, deur die ander persoon terug seer te maak. Maar hierdie reaksie op elke aksie teen my word net al hoe groter, en vernietig die wêreld.

Jesus haal ‘n Ou Testamentiese beginsel aan, wat op drie plekke staan: Eksodus 21:24, Levitikus 24:20 en Deuteronomium 19:21. Dit was oorspronklik bedoel as ‘n beperking op geweld! Mense was nog altyd wraaksugtig wanneer hulle seerkry, en kon oordadig terugslaan en doodmaak wanneer hulle in hul eer gekrenk gevoel het. Met hierdie Ou Testamentiese beginsel was die doel om geweld nie verder te laat eskaleer as om net in gelyke munt terug te betaal nie. George Perry Graham het gesê: “ ‘n oog vir ‘n oog maak die hele wêreld blind.” Dit bly ‘n bose kringloop van wraak en vergelding.

Jesus bring weer ‘n alternatief met die woorde “maar Ek sê vir julle …” Jesus het vir ons ‘n alternatiewe koninkryk kom bied, waar die beginsels heeltemal van die wêreld verskil. Hy het al die haat en geweld van die wêreld op Hom kom neem, en nie teruggeslaan nie. Hy het geseën waar ander sou vervloek. Dit het Hy gedoen om die mensdom te red. Hy het praktiese barmhartigheid kom bewys, al het dit Hom sy lewe gekos. Dit is wat Hy ook van ons vra. As ons Hom volg, offer ons onsself op. Hierdie vers is waar dit moeilik raak om ‘n dissipel te wees. Jesus vra: absorbeer die onreg, laat die oordeel in die Here se hande oor. Draai die ander wang as jy geslaan word.

Ek weet hierdie vers Is baie moeilik om na te kom in ons dag. Ek self het al twee familielede deur moorde verloor, en die ou mens in my wil met geweld antwoord. Dit wat Jesus vra, is dat ek die vergelding en oordeel in die Here se hand moet los. Wanneer ek gevoelens van haat ronddra, is ek self die eerste slagoffer daarvan, my eie vrede en lewensgeluk verdwyn met hierdie emosies. Daar is kosbare getuienisse oor die goeie vrug wat dit al opgelewer het wanneer kinders van die Here nie terugslaan nie, en hulle vyande seën. Die liefde van God word dan sigbaar, en lewens kan ten goede verander daardeur.

Gebed: Here Jesus, hierdie is so ‘n moeilike opdrag! Dis moeilik om iemand te vergewe wat my seer gemaak het. Leer my om soos U te kan vergewe, met die groter doel van u koninkryk se koms wat kan deurbreek waar ek kwaad met goed beantwoord. Gee my die krag van die Gees om dit te kan doen. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS