Bible Society of South Africa

Dis die klein dingetjies … Vergewe jouself – 9 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

12Oor hulle ongeregtighede

sal Ek genadig wees en aan hulle sondes

nooit meer dink nie.”

HEBREËRS 8:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om mense te vergewe, wérklik te vergewe, wanneer hulle jou te na gekom het, is ’n reuseuitdaging. Dit is nie maklik nie, selfs al weet ons dat die Bybel dit van ons vereis.

Maar soms, dink ek, is dit nog moeiliker om jouself te vergewe as jy ’n fout gemaak het. Ons almal doen gereeld dinge waarop ons nie trots is nie. En dit is mos dikwels ook die soort dinge wat so nou en dan, uit die bloute weer terugspring in jou gedagtes, net om weer vir ’n ruk by jou te kom spook. Dan het jy dalk vir so dag of wat horries oor daai fout – jou onbedagsame besluit, die ongevraagde opmerking, jou vooroordeel, die skinderpraatjies of die leuen wat jy vertel het.

Ek kry soms horries oor dinge wat ek wens ek eerder nie gedoen het nie. Dan is ek van voor af vies vir myself en ek kry skaam oor my gedrag. Ek weet ek moes van beter geweet het.

Die ironie is dat ek dit meestal lankal met God en die betrokke persoon uitgeklaar het. Ek het reeds om verskoning gevra, om vergifnis gevra. Maar soms is daai stemmetjie in jou kop maar genadeloos.

As ek lees wat God in Hebreërs oor vergifnis sê, dan besef ek, ons moet ook onthou om onsself te vergewe. As Hy ons sonde kan vergewe en vergeet en nooit weer daaraan dink nie, hoekom doen ons dit aan onsself? Hoekom haal ons onsself dikwels oor en oor oor die kole?

Ja, ek glo dit is belangrik om uit ons foute te leer en ons moet altyd regmaak met die mense teenoor wie ons sondig. Ons moet ons sonde bely en ook vir God om vergifnis vra. Dit is belangrike stappe. En ja, ons moet daarna streef om beter te wees. Maar ek dink ons moet ook onthou om onsself te vergewe – ons hoef onsself nie vir ewig te straf nie. Om vry te wees en vrede in jou hart te hê, beteken ook om ’n bietjie genade met jouself te hê.

As God nie meer oor jou sondes dink nie, hoef jy ook nie. Dis dalk ’n klein kopskuif wat die wêreld se verskil in jou lewe kan maak.

Gebed: Here, dankie dat U my sondes vergewe en nie weer daaraan dink nie. Help my om ook myself te vergewe en vrede in my hart te vind. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS