Bible Society of South Africa

Dis die klein dingetjies … Doen iets goeds – 10 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

13Help die medegelowiges

in hulle nood

en lê julle toe op gasvryheid.

ROMEINE 12:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die naweek wink, wat ’n heerlike gedagte! Dis darem lekker as ’n naweek voorlê en jy weet daar wag iets spesiaal – ’n kuier saam met geliefdes, ’n uitstappie, ’n lekker braaivleisvuur of tyd om asem te skep. Dit is ook so dat nie álmal na naweke uitsien nie. Vir sommige mense lê twee eensame dae voor, sonder opwinding. Sommige mense moet lang skofte werk.

Net so hou ’n nuwe week ook nie vir almal vreugde in nie. Nie almal is gelukkig by die werk nie, vir baie mense is ’n nuwe week ’n opdraande stryd – oor verskeie redes. Ons leef boonop in ’n tyd waarin ons geweldig bewus is van die land se probleme. Ons leef in ’n land waar ons daagliks gekonfronteer word met swaarkry en hartseer.

Voel dinge vir jou ook met tye net té erg? Asof jou eie uitdagings en die swaarkry rondom ons, gewoon een te veel is? Dit voel vir my soms so.

Ek dink gereeld aan die Afrikaanse musikant, Karen Zoid, se liedjie “As musiek begin speel”. Die lied, wat sowat 11 jaar gelede uitgereik is, is spesiaal vir haar seun geskryf en dit is een van my gunstelinge. Sy sing:
“En as jy ooit voel / Die lewe is net een groot gesuffer / Reik jou hande uit / En help ‘n ander / Met minder / As jy / Gaan maak iemand bly / Want dan sal jy / Altyd kan saam sing / As die musiek begin speel / En dans in / die somer se reën …”

Is dit nie baie waar nie? Wanneer ons goed doen aan ander mense, dan voel ons goed. Dit is bevredigend en vervullend as jy weet jy kan iets vir iemand anders beteken, as jy ’n klein verskil kan maak in iemand se lewe, of selfs net hul dag. Dit hoef ook mos nie altyd met geld te wees nie – daar is baie maniere om goed te doen.

In Romeine 12 word daar vir gelowiges gesê hoe om te lewe. Ons word aangemoedig om vir mede-gelowiges lief te wees en goed te doen teenoor hulle. Maar die Here vra ook dat ons teenoor vreemdelinge vriendelik is. Ons word aangemoedig om uit te reik. In vers 9 staan daar: “Julle moet slegte dinge haat en graag goeie dinge doen.”

Moet ons nie dalk juis nou, wanneer dinge regtig swaar gaan, meer goed begin doen nie? Daar is baie plekke en mense wat hulp nodig het. En wie weet, dalk het dit ’n rimpel-effek.

Gebed: Liewe Here, help my om iets goed te doen vir ander mense. Gebruik my in tye van nood en swaarkry om vir iemand anders vreugde te bring en sodoende u liefde uit te leef. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS