Bible Society of South Africa

Dis die klein dingetjies … Laat gaan, beheervraat – 8 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

MATTEUS 11:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

Een van die dinge waarmee ek baie sukkel, is om te laat gaan. Ek is ’n self-erkende beheervraat. Ek wil altyd weet wat aangaan, ek wil vooruit beplan en ek wil meeste dinge sélf doen. Gevolglik is dit vir my baie swaar as ek nié kan beplan nie, as ek nie weet wat aangaan nie en ek natuurlik nie self aan die stuur van sake kan wees nie.

Voel jy ooit so?

Dis nie juis ’n eienskap wat my lewe makliker maak nie. Hoewel dit my aan die een kant met tye kan help om minder te bekommer, laat dit my aan die ander kant, ironies genoeg, méér bekommer. Want, wanneer ’n mens alles self wil doen, het jy meer om oor te bekommer.

Ja, ek weet, dit klink alles eintlik soos ’n dubbelsinnige raaisel met ’n vangplek.

Tog herinner God se Woord ons juis daaraan dat ons nié alles kan beheer nie. God moedig ons aan om na Hom toe te gaan en oor te gee. Hy wil hê ons moet laat gaan. Ons moet al die dinge waaroor ons ons bekommer, die dinge wat ons so graag wil beheer, maar gewoon nie kan nie, oorgee aan Hom.

In Filipense 4:6-7 (Die Bybel vir almal) staan daar: “Julle moenie bekommerd wees nie. Julle moet ernstig bid tot God, julle moet vir Hom sê wat julle nodig het en julle moet vir Hom dankie sê daarvoor. Julle behoort aan Christus Jesus. Daarom sal God vir julle vrede gee, vrede wat baie beter is as enige iets waaraan mense kan dink, vrede wat die dinge beskerm wat julle dink.”

Dis soms moeilik om te laat gaan, maar dit is dikwels só nodig. Ons kan nie alles beheer nie en ons hoef ook nie. Soms moet ons net aan God oorgee. Hy weet wat moet gebeur – wat ’n gerusstellende gedagte. Dit is op ’n manier ook bevrydend om myself te herinner dat selfs al wil ek, kán ek nie alles beheer nie.

Wat is daar in jou lewe wat jy vandag aan God wil oorgee? Doen dit net en laat gaan.

Gebed: Liewe Here, dit is soms so moeilik om te laat gaan en U te vertrou om die regte dinge te laat gebeur. Help my om oor te gee aan U, almagtige Vader. Help my om te onthou dat ek nie alles kan of hoef te beheer nie en gee vir my ook vrede in my hart. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS