Bible Society of South Africa

Dis die klein dingetjies … Gehaltetyd – 7 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

ROMEINE 12:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit voel vir my, hoe ouer ek word, hoe vinniger vlieg ’n jaar verby. Op 15 Februarie is die winkels reeds vol sjokolade Paashase. En voor ek my oë uitvee is dit kerkbasaar, Moedersdag, winter en teen September voel dit vir my die jaar is so te sê oor.

Met die dat tyd vir my al hoe vinniger begin verbyflits, het ek al meer bewus geraak van die waarde daarvan. Afsprake en spesiale geleenthede saam met my familie en vriende het soveel meer betekenis. Ek koester die herinneringe. Die tyd saam met die mense wat vir my belangrik is, is ’n prioriteit.

Die ironie is dat ek net so skuldig is daaraan om tyd te mors. Ek sit gereeld op die bank en scroll sinneloos deur sosiale media. Dan kyk ek na video’s of foto’s van ander mense. Dit vermaak my nie regtig nie en dit lig my ook nie eers in oor enigiets sinvol nie. Voor ek my oë uitvee is tien minute verby. Dit is tyd wat ek beter kon aanwend.

Ja, ek weet ons almal wil soms afskakel en nie dink nie. Soms is ’n mens lus vir ligte vermaak of die lawwighede wat sosiale media bied.

Ek dink maar net ons moet probeer om waaksaam te wees oor hoe ons ons tyd deurbring. En ons moet tyd maak vir God. As ons meer tyd saam met God deurbring, dan is daar meer tyd om oor Hom en oor onsself te leer. Gehaltetyd help ons om ons verhoudings met ander mense te verdiep en net so sal dit ons verhouding met ons Hemelse Vader kan verdiep. Dalk kan dit ons ook help om beter te verstaan wat sy wil vir ons elkeen is.

Gebed: Liewe Heer, help my om nie vasgevang te raak in die daaglikse gejaag nie. Help my om tyd te maak vir U en u wil te doen. Dankie dat U altyd tyd het vir my. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS