Bible Society of South Africa

Dis die klein dingetjies … Goeie gewoontes – 6 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

Bid en tree met wysheid op

2Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar

KOLOSSENSE 4:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Daar word gesê dit vat 21 dae om ’n nuwe gewoonte te kweek. Ander studies beweer dit neem langer. Tog meen die Amerikaanse sielkundige Brian King daar is talle faktore wat ’n rol speel wanneer dit by nuwe gewoontes kom, onder meer die gevoel van beloning na die afloop van ’n aksie of taak. Hoe groter die beloning of hoe beter dit jou laat voel, hoe makliker gaan dit vir jou wees om van die spesifieke aksie of taak ’n gewoonte te maak. Hy meen dit is daarom nie noodwendig moontlik om presies vas te stel hoe lank dit gaan neem voor iets ’n gevestigde gewoonte is nie.

Op Oujaarsaand het ek besluit ek gaan hierdie jaar probeer om myself minder te bekommer oor alles en almal. Ek gaan probeer om my minder te bekommer oor die dinge wat ek in elk geval nie kan beheer nie, het ek verklaar terwyl ek en my man op die stoep gesit het en ’n glasie op die ou en nuwe jaar geklink het.

Dis Maart. Het ek dit reggekry? Glad nie. Die jaar het skaars begin toe is ek reeds oor die rand van bekommernis oor werkdinge en huisdinge en véral babadinge. Ek kan dit netsowel erken, dit is beslis nie ’n gewoonte wat ek vinnig of maklik gaan afleer nie. Ek het wel besef ek kan die gewoonte probeer troef. Wanneer ek my bekommer oor die huisdinge of werkdinge of familiedinge, probeer ek om gereeld met God daaroor te praat. Ek bid en vra vir die nodige wysheid en insig. Ek vra vir kalmte in my hart en ek probeer om op die dinge te fokus wat positief is – die dinge waarvoor ek kan dankbaar wees.

Maak dit dat ek minder bekommer? Nie altyd nie. Maar dit help my met tye om perspektief te behou.
Ek glo gereelde gesprekke met God is ’n goeie gewoonte, dis waarom die Bybel dit aanmoedig. Dit laat my gewoonlik beter voel. Om jou denke te rig op die dinge wat goed is en waarvoor jy kan dankie sê, is beslis ook ’n goeie gewoonte. Dit is klein veranderinge wat ons kan aanbring, klein gewoontes wat ’n groot verskil kan maak.

Gebed: Hemelse Vader, help my om te onthou dat U altyd luister en dat U altyd ’n plan het. Help my om nie in my bekommernisse vas te kyk nie en meer gereeld die goeie dinge in my lewe en omstandighede raak te sien. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS