Bible Society of South Africa

Die grootste opdrag – 14 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

12Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. 13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. 15Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. 17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”

JOHANNES 15:12-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Liefde” het ‘n woord geword wat baie seergekry het in ons wêreld. Dit het so verskraal dat Tina Turner in die 1980’s kon sing “What is love, but a second hand emotion …” Die liefde van Jesus is nie net mooi woorde nie. Dit is nie tydelik en kortstondig nie. Jesus het die daad by die woord gevoeg. Hy het gesterf in ons plek om ons vry te maak, en lewe te gee. Hy was bereid om sy alles op te offer vir ons. Die grootste liefde wat ‘n mens kan kry, om jou lewe op te offer vir jou vriende.

Met hierdie liefde het Jesus ons ‘n nuwe lewe kom gee. Nou kom sy een opdrag: Gaan doen jy nou net so! Jesus sê: dit is waarom Hy ons uitgekies het! Hy het ons op die naam geroep om Hom te volg. Hy het ons aangestel in sy diens – ons moet gaan vrug dra wat God sal verheerlik. Die vrug wat ons dra, is die liefde wat die wêreld verander. Selfopofferende, diensbare liefde. Ons word Jesus se hande en voete wat voortgaan om sy liefde vir die wêreld uit te deel.

Om dit te kan doen, rus Jesus ons toe met die voorreg om te mag bid. Ons bid om te onthou dat ons aan die Here behoort, en van Hom afhanklik is in alles wat ons doen. Ons bid om ons eie wil aan die Here onderdanig te maak, en eerder sy plan as ons eie koppe te volg. Ons gee oor in gebed, om met liefde gevul te word, wat sal oorloop en die wêreld rondom ons sal aanraak en verander.

Jesus is so ernstig dat Hy die opdrag herhaal in vers 17 (dit was reeds in Johannes 13:34 en 15:12 gesê tydens hierdie aand voor Jesus se dood) “Dit beveel Ek julle: julle moet mekaar liefhê.” Hierdie liefde van Jesus moet sigbaar word in ons huwelike, in ons ouerskap, in ons gemeentes. Die liefde van God moet ons kenmerkende karaktereienskap wees.

Gebed: Here, dankie dat u liefde die grootste krag in die heelal is. Deur liefde het U my geskape, my gered, en vir my die ware lewe kom gee. Help my nou om u liefde teenoor almal uit te leef, oral waar ek gaan. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS