Bible Society of South Africa

Op die regte paaie - 6 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

3Hy gee my nuwe krag.

Hy lei my op die regte paaie

tot die eer van sy Naam.

‘n Skaapwagter lei die skape en maak seker dat hulle in die regte rigting beweeg. Wanneer hulle wil afdwaal, bring hy hulle saggies met sy herderstaf terug na die trop.

Die God van die Bybel doen presies dit. Wanneer ons Hom volg, sal Hy in ‘n wêreld vol geraas en dinge wat ons aandag aftrek, ons lei. Deesdae is daar ‘n magdom verpligtinge, verantwoordelikhede en tydverdrywe wat almal om ons aandag meeding.

In tye soos dit is dit maklik om ons stiltetyd met die Here af te skeep. Baie gou vind ons dan dat sy stem deur al die ander dinge uitgedoof word. Die slinkse vyand van ons siele is natuurlik ten volle bewus van moontlikhede en gewillig om ons nog verder van God af weg te lei. Dit hoef egter nie so te wees nie.

‘n Beroemde Amerikaanse predikant het op ‘n keer gesê dat God ons navigasiesisteem is, ons eie “global positioning system (GPS)” wat ons na waar ons moet wees sal neem. Hy het verder genoem dat elkeen van ons op ons eie lewensreis is en daarom kan ons nie iemand anders se GPS gebruik nie. God se leiding is pasgemaak vir elke persoon se reis.

Boonop is daar geen misverstand met God se aanwysings nie. Nie soos dit soms met die GPS gebeur wanneer dit vir jou sê in 400 meters daar ‘n vurk in die pad is nie. Steuringe langs die pad of raserige reisgenote kan ook ‘n misverstand tot gevolg hê. En selfs wanneer ons op ons lewenspad verdwaal, bring God ons egter terug met sy Herderstaf.

Die geïnspireerde woord van God is ons onfeilbare kompas – dit lei ons na ons persoonlike ware noord. Deur God se foutlose Woord is ons in staat om te onderskei wat die regte rigting is vir ons lewens, soos gekarteer in sy woord. En ja, baie van ons is nie goed met kaarte nie, maar hierdie Kartograaf het alles wat ons nodig het gekarteer om ons op die regte pad te hou.

Die Woord van God, soos geopenbaar in sy geïnspireerde Woord – volgens Openbaring 19:13 is sy Naam “Die Woord van God” – is ons Gids deur hierdie lewe, en Hy is uiters ervare. Nie net ken Hy die pad nie, Hy is die Pad na die Vader en Hy bied aan ons die ewige lewe waar ons vir altyd saam met Hom kan leef.

Gebed: Ons loof en prys U, Here, vir ‘n Bybel waar ons nie net meer oor U kan leer nie, maar ook waar die ware Weg aan ons geopenbaar word sodat ons vir ewig by U kan wees. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS