Bible Society of South Africa

Vir ewig en altyd - 28 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

25En dít is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe.

1 JOHANNES 2:25AFR83Maak oop in die Bybelleser

My Engelssprekende man het dikwels vir my gesê: “I love you forever and ever, plus a day”. Dit het my so gelukkig en veilig laat voel. Hy is ongelukkig oorlede en daardie vir ewig en altyd het tot ‘n einde gekom. Wanneer Jesus egter na die ewige lewe verwys, is dit nie ‘n afgebakende tydperk nie. Dit lê miskien buite ons begrip, maar wat ons wel weet, is dat die Seun aan ons ewige lewe beloof het.

Lees die verhaal van die ryk man en Lasarus in Lukas 16:19-26. Daar is baie lesse wat ons hieruit kan leer, maar die belangrikste is dat daar wel ‘n hemel en ‘n hel is. Daar is geen toegang van die een na die ander nie. Ons besluite hier op aarde gaan bepaal waar ons die ewige lewe gaan deurbring.

Die Bybel vertel ons dat die hemel ‘n plek sal wees van blydskap (Lukas 15:7), beloning (Matteus 5:12), vrede (Lukas 19:38) en geregtigheid, waar God se wil sal heers. In Openbaring 21 kry ons onder andere ‘n wonderlike beskrywing van die nuwe Jerusalem, maar soos baie van die dinge in Openbaring is dit moeilik om tussen simboliek en die letterlike te onderskei. Wat wel duidelik is, is dat geen plek op aarde, hoe mooi ook al, eers naby kom aan die prag van die hemel waar ons vir ewig gaan woon nie.

Die Bybel sê ook vir ons dat in die hemel daar geen meer pyn (Openbaring 21:4), trane (Openbaring 7:17) of dood (Lukas 20:36) sal wees nie.

Maak geen fout nie. Die Bybel beskryf ook die hel vir ons. Dit is ‘n plek van pyniging wat ook vir ewig daar sal wees (Openbaring 14:11), ‘n plek van donkerte (Matteus 8:12). Ek dink ons kan met veiligheid sê dit is die teenoorgestelde van die hemel. Die besluit wat jy vir jou ewige woning moet maak, is regtig dringender as watter rugbyspan jy Saterdag gaan ondersteun.

Jou keuse gaan oor Jesus, ons Verlosser. Hierdie ewigheidsbesluit beteken egter nie jy kan met jou lippe bely dat Hy jou Verlosser is en dan maar aangaan soos voorheen nie. Hierdie gewigtige besluit raak beide ons houding en gedrag. “Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal … Maar jy, man van God … Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal.” (1 Timoteus 6:10-12)

Ek glo in die ewige lewe.

Gebed: Here, al verstaan ons nie alles nie, help ons om met ‘n ewigheidsperspektief te leef, ons oë gerig op U. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS