Bible Society of South Africa

Die geboorte van Jesus - 14 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

Die geboorte van Jesus Christus

18Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus.

Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom.

MATTEUS 1:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus se geboorte gaan nie net oor skaapwagters, wyse manne en die stal nie. Soms is dit vir my moeilik om te glo dat God self, mens geword het. Doodeenvoudig omdat, soos my liewe ma sou sê, die duiwel hieroor vir my kerk hou.

Wanneer ek twyfel is die Bybel die plek om antwoorde te gaan soek. Die Ou Testament verwys dikwels na die geboorte van die Seun. “… ‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem. (Jesaja 7:14)

Die Evangelies vertel dat ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef verskyn het. “Josef … moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. … ” (Matteus 1:20-21) Toe Josef daar wakker word, was hy na alle waarskynlikheid geskok en verward. As toegewyde Jood het hy heel moontlik die engel se woorde as ‘n aanhaling van die Jesaja-profesie erken.

Die engel verskyn ook aan Maria. In Lukas lees ons dat: Toe die engel by haar kom, sê hy: “ … Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word.” (Lukas 1:31-32) Maria was definitief geskok. Onmoontlik dat sy swanger kon wees. Sy vra vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie?” Die engel antwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek …” (Lukas 1:34-35) Die engel herinner haar verder: “Niks is vir God onmoontlik nie.” (Lukas 1:37).

Beide Josef en Maria kry die nuus dat hierdie kind die Seun van God is. In sy boek “Knowing God” skryf JI Packer: “The real difficulty lies not in the Good Friday message of atonement, nor in the Easter message of resurrection, but in the Christmas message of Incarnation.” Hoekom is dit belangrik dat Jesus ontvang is van die Heilige Gees en gebore is uit die maagd Maria? Want hierdie wonderwerk, die inkarnasie, die menswording van God, help ons om sin te maak van die res van die Nuwe Testament.

Miskien laat hierdie gebeure jou soms twyfel. Onthou, niks is vir God onmoontlik nie.

Ek glo in Jesus Christus, ontvang van die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U as God volkome mens geword het en ook vir my gesterf het. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS