Bible Society of South Africa

Ek glo in die Heilige Gees - 24 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

7Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.

JOHANNES 16:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons bely ‘n Drie-enige God –Vader, Seun en Heilige Gees. Vir my was dit makliker om in die Vader en die Seun te glo, as in die Heilige Gees. Interessant, juis met die hulp van die Heilige Gees en sy betrokkenheid in my lewe, verstaan ek die Drie-eenheid ‘n bietjie beter. Hier volg maar net ‘n paar dinge wat ek oor die Heilige Gees geleer het.

Ons is van nature ongehoorsaam aan God. Reeds in Esegiël sê God dat Hy ons klipharte sal verwyder en vir ons sy Gees sal gee sodat ons Hom sal kan gehoorsaam. (Esegiël 36:26-27) In Johannes 14 verseker Jesus sy dissipels (en ook vir ons sy kinders) dat Hy hulle nie as weeskinders sal agterlaat nie. Daar sal ‘n ander Voorspraak vir ewig by ons wees, naamlik die Gees van die waarheid en Hy sal in ons woon en ons help om Jesus se opdragte te gehoorsaam. (Lees Johannes 14:15-20)

Ons is eiesinnig. In Efesiërs 4:25-31 gee Paulus vir ons riglyne vir ons lewe. In vers 30 waarsku hy ons om nie die Heilige Gees te bedroef nie. Luister eerder na daardie stem in jou binneste wat jou teen verkeerde dinge waarsku.

Ons aandag word maklik afgelei van Jesus. Ons is dikwels in die versoeking om te wil hê mense moet ons raaksien en komplementeer eerder as vir Jesus. Die Heilige Gees is egter ons rolmodel wanneer ons te belangrik in ons eie oë raak. Hy weet sy doel is om Jesus te verheerlik (Johannes 16:14) en Hy sal ons help om dit ook te doen.

Ons twyfel dikwels. Ons leef in ‘n wêreld wat aanhoudend probeer om ons te oortuig dat dit wat ons glo vals is. Ek kan net van myself getuig (maar ek dink nie ek is alleen nie), dat ek soms die stemmetjie van twyfel hoor: “Is alles wat jy glo regtig waar? Is jy regtig gered?” Terug na die Bybel: “God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang.” (2 Korintiërs 1:21-22)

Ek glo in die Heilige Gees.

Gebed: O Heilige Gees, maak my gewillig om U toe te laat om elke oomblik van my lewe betrokke te wees. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS