Bible Society of South Africa

Dankbaarheid: Leef met die verwagting dat dit goed sal gaan - 3 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

1 TESSALONISENSE 5

18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

1 TESSALONISENSE 5:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

’n Vriendin en kollega van my, vertel eendag van ’n onderhoud wat sy met ’n bekende TV-aanbieder gedoen het. Dié vertel toe dat sy met die verwagting leef dat dinge sal goed gaan. Sy glo dat die regte geleenthede oor haar pad sal kom, sy glo dat sy en haar geliefdes gesond sal wees, sy glo dat wanneer sy haar e-posse oopmaak, daar goeie nuus sal wees.

Dit was vir my so ’n interessante uitkyk op die lewe. Eintlik fassinerend.

Aan die een kant, klink dit so eenvoudig en wonderlik. Maar as ’n mens daaroor dink kan dit amper naïef oorkom, want die lewe is ingewikkeld en ons weet dat dinge nie altyd reg verloop nie.

Tog kan ek nie help om te dink dat dit werklikwaar ’n wonderlike benadering is nie – júís omdat die lewe ingewikkeld is en dinge nie altyd reg verloop nie. Dis definitief beter om eerder te glo dat dinge goed sal gaan en reg sal uitwerk as wat jy gedurig een of ander katastrofe verwag.

Ek sê dit, want ek self bekommer my dikwels oor dinge wat nog nie gebeur het nie en dan meestal nooit eers realiseer nie. Het jy ook al daai fout gemaak? Om jou so te bekommer oor iets wat jy bang is gaan gebeur dat jy naderhand heeltemal depressief voel oor die saak. En dan gebeur dit nie eers nie en dinge werk op die ou einde eintlik goed uit.

Dink net hoeveel ligter jy sal voel as jy van die begin af geleef het asof jy weet dit gaan goed uitwerk. As jy geglo het alles gaan okay wees, maak nie saak wat nie? Is dit nie juis wat ons as gelowiges moet doen nie?

Glo! Glo dat dit sal goed gaan. Glo dat daar ’n plan is met ons lewens. Glo dat daar uitkoms sal wees wanneer ons uitgedaag voel. Glo dat God vir ons sal sorg.

En is dit nie ’n wonderlike rede om dankbaar te wees nie?

Gebed: Liewe Here, help my om my kop op te lig en te glo dat U altyd daar is vir my en my geliefdes. Help my om dit met ’n dankbare hart uit te leef. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS