Bible Society of South Africa

Dankbaarheid: Ek kry die kans om ... - 2 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

KOLOSSENSE 3

15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.

KOLOSSENSE 3:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek begin hierdie maand deur op dankbaarheid te fokus. Ja, ek het al in die verlede oor dankbaarheid geskryf. Ek het nog altyd baie oor dankbaarheid gedink, maar ek het in die afgelope maand of twee nog meer as gewoonlik daaroor gedink en soms gewroeg.

Die rede? Want die lewe was met tye besonder vol, oorweldigend en uitdagend. Daar was dae wat dit gevoel het of my bekommernisse my gaan insluk. Die enigste manier waarop ek kon kophou en moedhou, was deur te fokus op die dinge waarvoor ek dankbaar kan wees.

Ek gaan eerlik wees, dit maak dinge nie dadelik beter nie. Dit laat my nie altyd minder bekommer nie. Tog is daar iets omtrent ’n dankbare ingesteldheid wat die lewe ’n bietjie meer draaglik maak.

Toe ek nou die aand weer my bekommernisse en die dinge wat my angstig maak, vir my man aframmel, toe vertel hy my van ’n video wat hy op sosiale media gesien het waarin iemand oor dankbaarheid gepraat het en mense aanraai om hul fokus te verskuif en vir hulself te sê: “Ek het die kans om …”

Dis nie nuwe raad nie – ek het dit al voorheen op die radio ook gehoor, maar dis beslis goeie raad. Dit beteken jy verander jou perspektief en probeer om die geleentheid, voorreg of voordeel van ’n situasie of uitdaging raak te sien.

Dis party dae maklik om ’n positiewe, dankbare invalshoek te vind vir die uitdagings in ons lewe. Party dae verg dit geweldige fokus, inspanning en gebed vir leiding.

Ek glo wel dis die moeite werd, want kort op die hakke van ’n dankbare hart, is vrede. En ek weet nie van jou nie, maar vrede in my gemoed gee dikwels aanleiding tot vreugde in my hart.

Gebed: Here, help my om elke dag te fokus op die goeie dinge wat dikwels uit my uitdagings en bekommernisse kan spruit. Help my om op die positiewe kant van ’n saak te fokus sodat ek ook u vrede in my gemoed sal ervaar. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS