Bible Society of South Africa

Dankbaarheid: Die groot goed, die klein dingetjies en sommer die chaos ook - 4 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

ROMEINE 11

36Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.

Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.

ROMEINE 11:36AFR83Maak oop in die Bybelleser

Teen Oktober begin dit dikwels vir my voel of die wêreld gekker as gek raak. Die feesseisoen lê voor en meeste mense begin skarrel om jaareinddinge afgehandel te kry. Maar die eintlike rede vir die gevoel dat dinge net maller raak, is moegheid.

Teen Oktober is baie mense al oor die rand weens stres en meeste van ons kan voel dis tyd dat die jaar end kry. Vir baie mense begin dinge juis dán spoed optel voor die skole oor net ’n klompie weke sluit.

Dis veral in tye van chaos, deurmekaar-tye en tye wanneer dit druk gaan wat dit voordelig is om met dankbaarheid na die “alledaagse dinge” in jou lewe te kyk.

Ja, wanneer ’n jaar einde se kant toe staan, fokus ons dikwels op die groot dinge waarvoor ons dankbaar is – die geleenthede, die hoogtepunte, die groot uitdagings wat ons oorkom het. Maar wanneer die lewe so vol en chaoties is, is dit juis goed om op die klein dingetjies ook te fokus. Die klein dingetjies kan soos strepies sonlig in ’n digte woud wees.

Ek probeer om byvoorbeeld, ten spyte van die verkeersknope op pad werk toe, rustig te raak en met God te praat oor dit wat ek in my lewe ervaar. Dan is ek dankbaar vir daai alleentyd, want alleentyd is deesdae vir my baie skaars.

Wanneer dit dol gaan, is ek dankbaar vir ouers wat kan help met die ryery speelskool toe en terug. Of vir ’n besorgde vriendin wat iets te ete op my lessenaar los.

As jy op die klein dingetjies begin fokus, besef jy sommer baie vinnig dat jy báie het om voor dankbaar te wees.

Dink net bietjie: ’n Dak oor jou kop, die kos in jou yskas, die kans om saam met vriende te kuier, ’n koppie koffie saam met ’n familielid, ’n oproep van jou broer of suster, ’n rustige aand tuis, ’n lekker aand uit, ’n kuier saam met jou kleinkind, ’n winskopie, ’n warm bed om in te slaap, klere om aan te trek, petrol in jou motortenk, ’n goeie fliek, ’n wonderlike boek, ’n kans om meer te leer.

Daar is baie klein dingetjies waarvoor ek en jy elke dag kan dankbaar wees. Ons moenie vergeet om dit óók raak te sien nie want daar is baie mense vir wie die dinge wat ons dikwels miskyk, alles behalwe klein is.

Gebed: Liewe Here, help my om te onthou om dankbaar te wees vir die gewone dinge wat ek so maklik miskyk wanneer die lewe dol raak. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS