Bible Society of South Africa

Lewe en dood in my hande? - 6 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

2daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe,

'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek,

3'n tyd om 'n lewe te neem, 'n tyd om 'n lewe te red,

'n tyd om af te breek, 'n tyd om te bou,

PREDIKER 3:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie is seker een van die mees omstrede teksverse in die hele Bybel. Daar het al verskriklike dinge in die geskiedenis gebeur in die naam van godsdiens. “Heilige” oorloë het plaasgevind. Godsdiens kan gevaarlik wees! Mense word vermoor in sommige kulture om die familie se naam “in ere” te hou. Vuurpyle trek deur die lug, sekere gode se name word uitgeroep.

Daar kan ‘n tyd wees om ‘n lewe te neem. Diep gelowige polisiemanne en -vroue lees ook hier, wat saans wag hou dat ons rustig kan slaap. Hulle wil nie, maar soms moet hulle ‘n lewe neem om ‘n aanval af te weer. Op persoonlike vlak glo ek daar is rede om jouself en jou geliefdes te beskerm teen geweldadige aanvalle. Vir die kind van die Here is lewe altyd kosbaar. Dit is hoogs uitsonderlik as dit ooit oor my pad kom om ‘n lewe van ‘n medemens te moet neem. Mag die Here ons daarvan bewaar!

Aan die ander kant, omdat lewe so kosbaar is, glo ek dat ons alles in ons vermoë moet doen om my naaste se lewe te red. Meer as dit, om my naaste te seën met my liefde, ondersteuning en hulp. Daar is so baie geleenthede om lewens te red. Ons moet net sensitief wees vir dit wat rondom ons aangaan. Daar word hongersnood vir Suid Afrika voorspel vir 2025, veral in Limpopo waar ek woon. Daar is baie mense wat moed verloor, wat baie desperaat raak met die omstandighede waarin hulle nou lewe. Sien ek dit raak? Kan ek ‘n verskil maak, al is dit net op ‘n baie klein maar tasbare manier?

Ons kan lewens red deur ‘n bietjie meer uit ons pad te gaan om ons naaste te help. Indien moontlik, kan jy lewens red deur ‘n bloedskenker te wees. Jy kan kies om ‘n orgaanskenker te word, sodat iemand anders kan voortleef wanneer jy nie meer daar is nie. Jy kan vir noodhulpopleiding gaan, om paraat te wees wanneer iemand in jou omgewing skielik in nood beland.

Om ‘n lewe te red vra van my ‘n bereidheid om op te offer sodat iemand anders kan lewe.

Ons rolmodel hier is natuurlik ons Here Jesus, wat selfs sy lewe aan die kruis gegee het, om die mensdom te red. Hy het vir ons kom wys dat liefde opoffer, dat dit selfs jou lewe mag kos. Jesus het gesê: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.” (Johannes 15:13) Mag die Here ons help om kanale van lewe, seën en liefde na die mensdom rondom ons te wees.

Gebed: Here, dankie dat lewe so ‘n kosbare geskenk uit u hand uit is. Here, beskerm my van situasies waarin ek eendag moet kies of ek iemand moet doodmaak. Mag dit nooit nodig wees nie! Help my om eerder lewe te red, om my naaste se lewe beter te maak deur my liefde, omgee en aksie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS