Bible Society of South Africa

Christus die oorwinnaar - 5 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

19Skrywe nou op wat jy gesien het, wat nou daar is en wat hierna gaan gebeur.

DIE OPENBARING 1:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Openbaring is ‘n weergawe van die geskiedenis van Christus en sy kerk, maar dan nie geskiedenis soos ons dit gewoonlik verstaan as ‘n blote beskrywing van dinge uit die verlede nie. Openbaring praat van die verlede, die hede en toekoms. Dit is vir alle Christene van alle tye bedoel om die kerk en haar lidmate wat steeds in ‘n stryd met die bose en die wêreld gewikkel is, by te staan en te versterk. In die sin is dit dus ook ‘n vorm van toekoms geskiedenis.

Wat vir die kerk van Christus in die tyd van Openbaring gegeld het, is nog net so waar vandag. Dit is belangrik vir die verstaan van die boek om te weet dat die gebeure soos beskryf, mekaar nie kronologies opvolg nie. ‘n Mens dink dikwels wanneer jy die boek lees dat jy nou met ‘n nuwe gebeurtenis besig is, terwyl dit eintlik ‘n tema is wat herhaal word. Gebeure word telkens uit ‘n ander hoek belig.

Om die boek werklik te verstaan en ook vir ons eie tyd van toepassing te maak, moet ons gaan kyk na die tyd waarin dit geskryf is en die omstandighede waarin die kerk van Christus toe geleef het. Johannes het die boek waarskynlik tussen 90 n.C en 95 n.C geskryf. In daardie tyd is die kerk van Christus deur die Romeinse Keiser Domitianus vervolg en die gelowiges het swaar gely. Baie is op gruwelike maniere doodgemaak en ander is verslaaf. In hierdie tyd van vervolging het hulle ‘n baie sterk anker nodig gehad. Daarom openbaar God aan Johannes alles wat ons teksvers sê hy moet opskryf, dit wat hy gesien het, hede en toekoms.

Ons hier in Suid-Afrika beleef nie vervolging nie, maar dit is ongelukkig nie waar van alle Christene in die wêreld nie. In baie lande word hulle steeds vervolg en selfs doodgemaak omdat hulle aan Christus behoort. Al word ons nie fisies vervolg nie, word die kerk en ons as gelowiges ook al meer en meer deur die wêreld eenkant toe rangeer. Lees maar net die snydende kommentaar in briewe aan koerante en op sosiale media. Ons is inderdaad gewikkel in ‘n stryd om die oorlewing van die kerk. Ook vir ons het Openbaring ‘n boodskap, die boodskap van Christus wat as oorwinnaar oor sonde en dood ook vir ons elke dag die oorwinning waarborg.

Gebed: Ons dank U dat ons te midde van geweld en oorlog en mense se verwerping van dit wat ons glo, kan weet dat U steeds regeer. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS