Bible Society of South Africa

God se weë is onbegryplik - 24 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

11God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.

PREDIKER 3:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ai, hierdie vers het al baie verskillende emosies by my losgemaak. Ek was al baie kwaad daarvoor, as iemand ‘n verlies in my lewe daarmee probeer verklaar. Ek het al so magteloos gevoel daaroor dat die Here kan maak wat Hy wil, en ek nie altyd ‘n sê in die saak het nie. Ek was al dankbaar daaroor, as die Here my bo verwagting seën, en iets beter uitwerk as wat ek verwag het. En soos ek ouer word, bring hierdie waarheid ‘n groter kalmte en vrede in my gemoed: God is in beheer, gelukkig nie ek nie.

Dit was vir my mooi om op universiteit te hoor van Karl Barth wat God die “gans Andere” genoem het. Baie groter as ek. Baie sterker as ek, en Hy het soveel meer wysheid en insig as ek.

Die Here se werk, wat ons van weet, het begin met die Skepping. Hy het hierdie aarde geskape, met magswoorde en in sy onbepaalde tyd, het Hy hemel en aarde geskape. Toe het Hy met sy eie hand die mens gevorm, die enigste wese waarin Hy sy asem ingeblaas het om lewe te gee. Ek verstaan nie die skepping nie. Was dit net ses 24-uur dae, of was dit ses tydperke in die onbepaalde tyd? Al wat ek verstaan, is dat God hemel en aarde gemaak het, en vir my hierin geplaas het op sy tyd.

Die werk van God se hoogtepunt vind ek in die gebeure van die Paasnaweek. Die feit dat die Here vir my so lief is, dat Hy vir my gesterf het aan ‘n kruis. Ek vind vrede in die opstanding van Jesus, wat sê dat die offer aanvaar is, ek behoort aan ‘n lewende Here wat die dood oorwin het. Ek verstaan dit nie alles nie, en tog deur geloof bring dit vrede en hoop.

In my alledaagse lewe is God aan die werk. Hy gee lewe, gesondheid, Hy sorg vir my daaglikse behoeftes. Dit beteken mos nie dat dit altyd net maklik gaan wees om die pad saam met die Here te stap nie. Ook hier verstaan ek nie altyd waarmee God besig is nie. Ek het net geleer om saam met Paulus in Filippense 4:12 te getuig: “Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Dis die geheim van die lewe – om op die Here te bly vertrou, al verstaan ek nie alles nie. Hy gee my die krag om alles te kan verduur, om te kan volhard totdat ek eendag by die lewe se wenstreep gaan aankom. (Filippense 3:14) Dis wat die Prediker ons wil leer vandag: Om te bly vertrou, in die gang van die tyd, dat God in beheer is. Dat Hy weet wat Hy doen, en dat Hy met ons op ‘n goeie pad is.

Gebed: Here, U is soveel groter, en sterker as ek. U verstaan die ewigheid, U verstaan die gang van planete. U is bo die geskiedenis verhewe. U ken die mensdom van die eerste oomblik af, en U weet hoe ons goed kan lewe op hierdie planeet. Ek weet so min, ek benodig soveel wysheid om my pad te vind. Daarom wil ek my lewe aan u beheer oorgee. Lei my op u paaie. Leer my om U te vertrou, ook vir dit wat ek nie verstaan nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS