Bible Society of South Africa

Môre is nog 'n dag? - 22 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

1Moenie roem oor wat jy môre verwag nie;

jy weet nie wat die dag sal oplewer nie.

SPREUKE 27:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

‘n Groot waarheid word in die volgende eenvoudige storietjie vasgevang. Twee vriende het heerlik per telefoon gekuier en mettertyd sê die een; “Ek verlang regtig daarna om jou weer te sien. Ek sal, as die Here wil, volgende Dinsdagaand vir jou kom kuier. As iets dalk voorval wat my verhinder, kom ek beslis Woensdag.” DV – Deo volente – as die Here wil, so is ons van kleins af geleer. ‘n Mens het so half skuldig gevoel as jy vergeet om dit by te sê, so asof die Here jou sal kwalik neem omdat jy vergeet het. Deesdae hoor mens maar baie min dat iemand dit nog sê.

Die Here mag jou dalk nie kwalik neem nie, maar ‘n mens behoort jouself kwalik te neem as jy Hom nie by jou beplanning insluit nie. Om God nie by jou beplanning in te sluit nie sê baie van hoe jy oor Hom dink en watter plek Hy in jou lewe beklee.

Telkens wanneer ek ‘n spreuk lees word ek weer verras oor die fyn manier waarop die skrywer daarvan ‘n saak raakvat. Moenie “spog” oor wat jy môre gaan doen nie sê die teks. Spog beteken letterlik om groot te praat oor wat jy die volgende dag gaan doen terwyl jy nie weet of die dag ooit gaan aanbreek nie.

Ten diepste beteken dit dat jy jou eie vermoëns hoog aanslaan en vergeet dat alles wat jy het en alles wat jy is, gawes van God is. Ons weet inderdaad nie wat elke volgende dag sal oplewer nie.

Hierdie is so ‘n belangrike saak dat die tema op verskeie plekke in die Bybel voorkom. In die brief van Jakobus kry ons in hoofstuk 4:13-17 ‘n hele uiteensetting van die idee. Soos die skrywer van Spreuke, vermaan Jakobus ook sy lesers in vers 15: Julle moet eerder sê “As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.” DV is dus tog noodsaaklik in die lewe van elke kind van God.

Gebed: Dankie dat ons kan sê: as die Here wil, en dit ook glo. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS