Die Vader sorg vir ons – 14 September 2020
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
LUKAS 12
Hierdie afgelope paar maande het my perspektief op dinge nogal baie verander. Dit wat ek soms as vanselfsprekend aanvaar het, het skielik ander betekenis gekry. Kontak met veral familie, huisvriende en kollegas by die werk was skielik afgesny. Die lekker saamkuier om ’n vuurtjie, terloopse geselsies by die winkel, ons beplande besoek op die familie se plaas in Namibië, als was skielik net weg. Ons is dankbaar om deur Zoom Bybelstudie te kan hou, maar dit is darem maar nie dieselfde as die ware jakob nie. Om elke dag ’n vars brood te gaan koop het nou skielik beteken ek moes vra of die behoefte aan brood of die risiko van siek word die swaarste weeg.
Dit was ook tyd om bestek op te neem van baie ander dinge. Skielik het ek besef dat my lewe soms deur besittings vertroebel word. Toe die eerste streng inperking verby was en ’n mens weer die stortingsterrein kon besoek, het ek letterlik vragte onnodige goed weggery. Bekommernis oor spaargeldjies wat skielik baie minder werd is, het ons seker almal ervaar.
Dit is toe dat die vers uit Lukas my sterk aangespreek het.
Ongeloof noem Jesus dit wanneer dinge vir my so belangrik word dat dit my verhouding met God versuur, want ons het mos ’n Vader wat weet wat ons nodig het. Vertrou ons Hom dan nie? Al het ek in ’n arm huis grootgeword, het ek nooit een dag getwyfel dat my ouers sou sorg dat daar elke dag kos op tafel is nie. Hoekom twyfel ’n mens dan soms of ons Hemelse Vader vir ons sal sorg? In ‘n vorige vers-‘n-dag het ons gesien dat ons sy kinders is wat op die erfporsie van verlossing en dus die ewige lewe kan reken, maar dan twyfel ek oor kos op die tafel en die munisipale rekening wat betaal moet word.
Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, baie dankie dat ons kan vra: “Gee ons vandag ons daaglikse brood”, maar boweal help my om werklik te glo dat U dit sal doen. Help my om ook verlos te word van die beslommernis van te veel besittings. Amen