Bible Society of South Africa
Ds Hein Barnard

Vergifnis – Dag 8

Hierdie psalm word geklassifiseer as ʼn “boetepsalm” maar staan ook bekend as ʼn “Dankpsalm”. Dit handel oor die uitwerking van vergifnis.

Bybelteks(te)

U het my skuld vergewe

1'n Gedig van Dawid.

Dit gaan goed met die mens

wie se oortredings nie gestraf word nie,

wie se sonde vergewe word.

2Dit gaan goed met die mens

vir wie die Here die oortreding nie toereken nie

en in wie se gees daar geen valsheid is nie.

3Toe ek oor my sonde geswyg het,

het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het.

4U hand het dag en nag swaar op my gedruk,

my krag het opgedroog soos water in somerhitte. Sela

5Toe het ek my sonde bely,

my oortreding nie weggesteek nie.

Ek het gesê:

“Voor die Here bely ek my opstandigheid;”

en U het my skuld vergewe. Sela

6Dit is waarom elke gelowige in 'n tyd van nood tot U bid;

selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie.

7U is vir my 'n skuilplek,

U beskerm my teen aanvalle,

U laat my oorwinningsliedere sing. Sela

8Ek wil jou onderrig

en jou die pad leer wat jy moet volg.

Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.

9Moenie onverstandig wees nie, soos 'n perd of 'n muil

wat met 'n stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei.

10Die goddelose het baie smarte,

maar wie op die Here vertrou,

dié omvou Hy met sy liefde.

11Verbly julle in die Here en juig, regverdiges,

jubel, alle opregtes.

Vergifnis in die Psalms – 1

Dit is belangrik om te weet dat vergifnis nie moontlik is sonder die belydenis van sondes nie. Dit vra vir die openbaarmaking van sondes wat gedoen is wanneer niemand anders dit gesien het of daarvan weet. Dit kan fisieke sondes wees, maar ook ons gedagtes. God kan nie gedwing word om ʼn sondebelydenis te vergewe nie; Hy vergewe omdat Hy ʼn genadige God is.

Die gelowige kan werklik gelukkig wees met die versekering dat sy/haar sondes vergewe is.

Dit is belangrik om vir vergifnis te vra voordat dit te laat is. Dit is nie die moeite werd om die juk van onvergewensgesindheid vir die res van jou lewe saam te dra wanneer iemand dood is en vergifnis nooit gevra is nie.

Paulus verwys na hierdie psalm in Romeine 4:7-8.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS