Bible Society of South Africa
Ds Hein Barnard

Vergifnis – Dag 7

Hierdie is ʼn bekende vers wat dikwels deur baie gelowiges aangehaal word gedurende ʼn tyd van droogte, ʼn pandemie of ʼn nasionale ramp. Dit is altyd belangrik om die konteks in gedagte te hou wanneer ʼn enkele vers aangehaal word.

Bybelteks(te)

Gebed van Salomo

12Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit. 13Hy het op 'n bronsverhoog gestaan wat hy gemaak het en in die voorhof gesit het. Dit was twee en 'n half meter lank, twee en 'n half meter breed, een en 'n half meter hoog. Hy het daarop gaan staan en toe kniel hy voor die hele gemeente van Israel en strek sy hande uit na die hemel toe 14en sê:

“Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog 'n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe. 15U het U gehou aan wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het. U het die belofte gemaak en dit so, soos dit vandag is, deur u woord en u mag vervul.

16“Here, God van Israel, bly dan nou by wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het toe U gesê het: Ek sal sorg dat daar altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel sal wees mits jou nakomelinge let op hulle optrede en volgens my woord lewe, soos jy gemaak het.

17“Here, God van Israel, laat die belofte wat U aan u dienaar Dawid gedoen het, ook verder vas staan.

18“Sou God werklik by die mens op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!

19“Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar tot U rig. 20Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat 'n dienaar van U na hierdie plek toe bid. 21Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog!

22“As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom 'n eedverpligting oplê om hom onder 'n vloek te plaas, en hy kom en spreek die eed uit voor u altaar in hierdie tempel, 23luister tog uit die hemel en gryp in en vel die beslissing oor u dienaars sodat die skuldige die straf vir sy dade ondergaan en die onskuldige gelyk gegee word soos dit by sy onskuld pas.

24“As u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het en hulle kom tot inkeer en bely u Naam en bid tot U in hierdie huis en smeek U, 25luister tog uit die hemel en vergeef u volk Israel se sonde en laat hulle terugkom na die land wat U aan hulle en hulle voorvaders gegee het.

26“Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor, 27luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel.

28“Sou daar hongersnood in die land kom, sou daar pes uitbreek, brandkoring of roes, swerms sprinkane en voetgangers, sou dit gebeur dat die volk se vyande hom in sy stede hier in die land beleër, watter plaag of siekte hom ook al tref, 29luister tog na elke gebed, elke smeking wat van enige mens of van u hele volk Israel mag kom soos elkeen sy plaag en sy smart te kenne gee en sy hande na hierdie tempel toe uitstrek; 30luister tog uit die hemel, u woonplek, en vergeef en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken die mens se hart, 31sodat hulle aan U gehoorsaam sal wees en u weg sal bewandel die hele tyd dat hulle in die land leef wat U aan ons voorvaders gegee het.

32“Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie en, omdat hy gehoor het van u groot Naam, u mag en krag, selfs uit 'n ver land kom en na hierdie tempel toe bid. 33Luister tog uit die hemel, u woonplek, en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel, en dat hulle kan weet u Naam is uitgeroep oor hierdie tempel wat ek gebou het.

34“Sou u volk teen sy vyande uittrek in 'n oorlog wat deur U beveel is, en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U gekies het en die huis wat ek vir u Naam gebou het, 35luister tog uit die hemel na hulle gebed en hulle smeking en gee hulle die oorwinning.

36“Sou hulle teen U sondig, want daar is nie 'n mens wat nie sondig nie, en U in u verontwaardiging hulle aan 'n vyand oorgee sodat hulle as gevangenes weggevoer word na 'n land, ver of naby, 37en hulle daar in dié land waar hulle gevangenes is, tot inkeer kom en hulle weer tot U wend en U daar in die land van hulle gevangenskap smekend aanroep: ‘Ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig’, 38en hulle tot U wend met hart en siel in die land van hulle gevangenskap en hulle bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van die stad wat deur U gekies is en die tempel wat ek vir u Naam gebou het, 39luister tog uit die hemel, uit u woonplek, na hulle gebed en smeking en neem hulle straf weg en vergeef u volk wat teen U gesondig het.

40“My God, hou dan nou hierdie plek onder u sorg en verhoor tog elke gebed hiervandaan.

41“Kom dan nou na u rusplek toe, Here God, U en u magtige ark. Laat u priesters, Here God, onder die beskerming van u hulp lewe, en laat u troue dienaars hulle verheug in die goeie dinge. 42Here God, hou u gesalfde onder u sorg. Dink aan wat U toegesê het aan u dienaar Dawid.”

Inwyding van die tempel

1Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom en die brandoffers en ander diereoffers verteer, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tempel gevul. 2Die priesters kon nie in die huis van die Here ingaan nie, so het sy magtige teenwoordigheid sy huis gevul. 3Toe al die Israeliete sien dat die vuur en die magtige teenwoordigheid van die Here op die tempel af kom, het hulle op die plaveisel gekniel. Hulle het in eerbetoon gebuig en die Here geloof: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

4Die koning en die hele volk het vir die Here offerandes gebring. 5Koning Salomo het twee en twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend stuks kleinvee geoffer. So het die koning en die hele volk die tempel van God ingewy. 6Die priesters het op hulle poste gestaan en so ook die Leviete met die instrumente vir die lied tot die eer van die Here. Koning Dawid het die instrumente laat maak om die Here te loof: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” So was die lofsang van Dawid in die Leviete se hande. Regoor hulle het die priesters die trompette geblaas en die hele Israel het daar gestaan.

7Salomo het die middelgedeelte van die voorhof wat reg voor die huis van die Here is, gewy, want dit is waar hy die brandoffers en die vetgedeeltes van die maaltydoffers verbrand het. Op die bronsaltaar wat hy gemaak het, was daar nie plek vir die brandoffers en die graanoffers en die vetgedeeltes nie.

8Salomo, en die hele Israel saam met hom wat gekom het uit die hele land, van Lebo-Hamat af tot by Egiptespruit, 'n baie groot gemeente, het destyds sewe dae lank fees gehou. 9Op die agste dag na die inwyding van die altaar wat sewe dae lank gevier is, het hulle 'n feestelike byeenkoms gehou. Die huttefees daarna het ook sewe dae geduur. 10Eers op die drie en twintigste van die sewende maand het Salomo die volk terug laat gaan huis toe, bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het aan Dawid, Salomo en sy volk Israel.

11So het Salomo dan die huis van die Here en die koninklike paleis voltooi. Alles wat Salomo onderneem het aan die huis van die Here en aan sy eie paleis, is voorspoedig afgehandel.

Die belofte en dreigement van die Here

12Daarna verskyn die Here een nag aan Salomo en sê vir hom: “Ek het jou gebed verhoor en hierdie plek vir My gekies as die plek waar daar vir My offerandes gebring kan word. 13As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, 14en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. 15Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan. 16En nou kies Ek en heilig Ek hierdie tempel sodat my Naam altyd daar sal wees, en dit altyd my sorg en my liefde sal geniet.

17“En jy, as jy soos jou vader Dawid leef volgens my wil en alles doen wat Ek jou beveel, en my voorskrifte en bepalings nakom, 18sal Ek jou heerskappy bestendig. So het Ek met jou vader Dawid ooreengekom: Nooit sal dit jou ontbreek aan iemand om oor Israel te regeer nie.

19“Maar as julle wegdraai en my voorskrifte en my gebooie wat Ek julle gegee het, verontagsaam en julle gaan dien ander gode en buig voor hulle, 20sal Ek julle wegdryf uit my land wat Ek julle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal daarvan 'n spot en 'n skimp maak onder al die volke. 21Ja, hoe verhewe hierdie tempel ook al was vir elke verbyganger, die verbyganger sal dan sy asem intrek en sê: ‘Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel?’ 22En die mense sal sê: Omdat daardie volk vergeet het van die Here die God van hulle voorvaders, wat hulle uit Egipte gebring het. Hulle het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het Hy al hierdie groot rampe oor sy volk gebring.”

2 KRONIEKE 6:12-7:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Salomo se gebed by die inwyding van die tempel wat hy vir die Here gebou het

Salomo begin sy gebed in hoofstuk 6 en bid dat die koning altyd getrou aan God sal wees (14-17), die tempel ʼn plek van aanbidding sal wees (18-21), gevolg deur baie gevalle waar die volk teen God sal sondig en lyding oor hulleself sal bring (22-39). Hy het afgesluit deur te bid dat God goedgesind teenoor die tempel sal wees.

Die inwyding van die tempel word in 7:1-10 opgeteken. God het in die nag aan Salomo verskyn (soos ook met Gideon). God het bevestig dat die tempel God se keuse was as ʼn plek waar mense offers aan Hom kan bring. God belowe om die volk se gebede te beantwoord nadat hulle hulself verootmoedig het, tot Hom gebid het, na die Here teruggedraai het en opgehou het om slegte dinge te doen.

Dit verwys na die volk, die volk Israel, maar sluit nie die individu uit nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS