Verandering, Advent en Kersfees – Dag 7
Het ons Kersfees deur ons vingers laat glip?
Bybelteks(te)
MATTEUS 1
Kersfees is seker die mees gevierde, gewildste, algemeenste, en omvattendste Christelike fees op aarde. Tog het dit vir talle die minste geestelike betekenis met die meeste sentiment en die soetste kinderherinneringe en waarskynlik die grootste mate van sinisme daaraan verbonde. Winkels kan nie wag om munt te slaan uit die gees van vrygewigheid met al die geskenke wat daarmee saamgaan nie. In sommige lande spring kersbome soos kakiebos op, pas na “Halloween” vieringe, terwyl die klanke van “Jingle Bells” en “Rudolph the Red-Nosed Reindeer” in die gange van elke inkopiemekka weergalm.
Ek hoor mense sê: “Is dit nie wonderlik dat mense van alle oortuigings – godsdienstig of nie – herinner word aan die waardes waarvoor Jesus gestaan het nie?” Vrede, vredeliewendheid, die eenheid van die mensdom, en natuurlik die gawe van gee. Dis tog waaroor die gees van Kersfees gaan, nie waar nie? (ʼn Tydige hersiening van waarvoor Christus “gestaan” het sal nie onvanpas wees nie).
Ek wil nou nie “The Grunch” wees wat Kersfees steel nie, maar ek moet darem net noem dat Kersfees nie net ʼn allemansfees is nie! Dis ʼn Christusfees wat gaan oor die geboorte van Jesus – die koms van God na die aarde om aan die redding van die mensdom vlees te gee. Dalk is dit tyd om sentiment opsy te skuif en Kersfees te red uit die hande van diegene wat dit beskou as blote volksverhaal of die wat dit graag vier as ʼn sentimentele reis na ʼn vergete kindertyd of om dit “ter wille van die kinders of kleinkinders te vier”. Ja, soms voel dit inderdaad asof Kersfees besig is om deur ons vingers te glip met die boodskap van Christus se geboorte heeltemal vergete.
Wat van my en jou? In plaas daarvan om onsself te verdedig met die woorde “dis nie hoe óns dit doen nie”, moet ons nie liewer vra: “Wat doen ek of wat doen jy en jou gesin of familie om die herinnering aan die nag toe hemel en aarde mekaar aangeraak het – toe die Ewige uitgereik het na die aardse om ons van sy oneindige en ewige liefde te verseker – lewend te hou?” Kom ons vier Advent deur ons voor te berei om God Immanuel – God wat uitreik na ons – te ontmoet. Wat ʼn wonderlike Kersfees sal dit nie wees nie.