Verandering, Advent en Kersfees – Dag 6
Meer as ʼn winskoop!
Bybelteks(te)
JESAJA 55
Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit
JOHANNES 6
JOHANNES 6
Vroue, en mans, hou daarvan om inkopies te doen. Daar is niks lekkerder as ʼn strooptog deur die winkelsentrums om jou kooplus te bevredig is. En as daar nou een ding is wat ons, en veral die skoner geslag, nie kan weerstaan nie, dan is dit ʼn winskoop. Vroue is meesters van die winskopie-wiskunde. Hulle dink altyd aan hoeveel hulle gespaar het op ʼn onnodige item eerder as aan die geld wat hulle gemors het deur dit te koop. (Gaan tel ʼn bietjie in jou kombuiskaste hoeveel ongebruikte katoetertjies daar lê).
Stel jou nou voor hulle kondig af oor die winkel se luidsprekerstelsel dat jy al die winskope op die uitverkoping gratis kan kry. Pandemonium! Jy en al die vroue en mans in die winkel sal met arms vol klere by die die winkel uitloop en teruggaan vir nog totdat daar nie meer ʼn enkele kledingstuk in jou kas kan inpas nie. En dan is jy boonop later spyt dat jy nie meer gevat het nie. Die ewige honger na iets meer om die leemte te vul word net nie bevredig nie.
In Jesaja lees ons ook van ʼn onweerstaanbare winskoop. Hy praat van ʼn spesiale aanbod wat niemand nog ooit kon klop nie. Dis ʼn uitnodiging aan al die dorstiges in die woestynland om water te kom kry en kos te kom koop. En nie net kos nie maar ook wyn en melk. En die prys? Niks. Mahala! Dis klaar betaal. En wat meer is, die brood waarvan hy hier praat is die brood wat ons siele voed.
In die Nuwe Testament word hierdie aanbod herhaal. Ons kan brood verniet kry: “Ek is die brood wat lewe gee” sê Jesus in Johannes 6:48. As ons van hierdie brood eet, sal ons nooit weer honger word nie. As ons Jesus se liggaam “eet” soos in die nagmaal, word ons honger na meer gestil. Vakansietye eet ons te veel, en later kry ons spyt daaroor. Maar die brood van lewe wat ons voed sonder dat ons ooit weer honger gaan kry, is ʼn aanbod wat geen ander geloof op die markplein kan klop nie.