Tyd is kosbaar – Dag 5
Aan Hom die eer!
Bybelteks(te)
MATTEUS 24
Die Britste en Buitelandse Bybelgenootskap is op 7 Maart 1804 in Londen gestig. Hierdie Genootskap is die moedergenootskap van baie ander Bybelgenootskappe, ook van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Die besluit om ʼn genootskap te stig om die groot tekort aan Bybels te probeer verlig, was die gevolg van die begeerte en volharding van Mary Jones, ʼn arm Walliese tienermeisie wat vasberade was om ʼn Bybel in haar taal te bekom. Nadat sy vir jare geld bymekaargemaak het, het sy sowat 40 kilometer na die naaste dorp gestap om ʼn Bybel by die plaaslike predikant te gaan koop.
Tydens ʼn vergadering in Londen het daardie predikant haar as voorbeeld gebruik in sy pleitrede vir Bybels vir Wallis. ʼn Medepredikant het saamgestem en gesê: “Indien vir Wallis, waarom nie vir die koninkryk nie, waarom nie vir die hele wêreld nie?”
Die werk wat Bybelgenootskappe doen, het nie in 1804 eers begin nie. Dit strek baie verder terug. Toe Moses met die tien gebooie, wat hy met die volk van die Here moes deel, van Sinaiberg afkom was dit reeds ʼn voorsmakie van wat Bybelgenootskappe vandag doen.
Die volledige Bybel is in 694 tale beskikbaar en die Nuwe Testament en Bybelboeke in ʼn verdere 2 701 tale. Maar met meer as 7 359 tale in die wêreld, is die taak nog lank nie klaar nie.
Die wonderlike eienskap van Bybelgenootskapwerk is dat alle Christene van alle ouderdomme betrokke kan raak. Hulle kan aktief betrokke raak by vertalings-, produksie- en verspreidingsprojekte, beide vir Suid-Afrika en die res van die wêreld.
Miskien roep die Here jou vandag om die goeie nuus van die evangelie op hierdie manier met ander te deel.