Tyd is kosbaar – Dag 6
Leef in geloof
Bybelteks(te)
MATTEUS 16
Om Jesus te volg
Jesus het besluit dat dit tyd was vir ʼn ernstige gesprek met sy dissipels. Hy neem hulle toe na die streek Sesarea-Filippi vir hierdie openhartige gesprek.
Was die dissipels bewus van wat besig was om te gebeur? Wie, sê die mense, is Hy? Wie sê hulle (die dissipels) is Hy? Hierdie was die vrae wat Jesus aan sy dissipels gestel het. Petrus antwoord namens die groep: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
Jesus is tevrede met hierdie antwoord en Hy seën Petrus. Die dissipels het geglo (soos die Jode van daardie tyd geglo het) dat wanneer die Messias kom, Hy die beloofde koninkryk in ʼn fisiese vorm sou vestig en dat hulle volk die wêreld sou regeer.
Jesus verduidelik toe aan sy dissipels dat die beloofde koninkryk wel sou kom, maar dat Hy eers doodgemaak moet word. Op die derde dag sou Hy egter uit die dood opgewek word.
Die dissipels staan verslae. Petrus neem Jesus eenkant om Hom te berispe. Stel jou voor! Jesus draai na Petrus toe en spreek hom ferm aan: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ʼn struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê” (Matteus 16:23).
Petrus het nie verwag dat hy verkwalik gaan word nie. Maar Jesus was besig om sy dissipels te leer wat dit beteken om werklik in geloof te leef. Dit is nie ʼn maklike lewe nie, maar ʼn lewe waartydens ʼn mens jouself moet verloën en dikwels ter wille van Jesus swaarkry moet verduur. Jesus nooi ons uit om ons kruis op te neem en Hom te volg.
Is jy gewillig om dié uitnodiging te aanvaar? Dit is die enigste weg na die ewige lewe en na sy koninkryk.