Tyd is kosbaar – Dag 4
Elke dag is ʼn geskenk van bo
Bybelteks(te)
PSALMS 118
As jy in die tyd geleef het toe dit verpligtend was om by die tempel in Jerusalem te aanbid, sou jy vandag se Skrifgedeelte baie goed geken het. Dit is deel van ʼn lied om die Here te dank en te loof.
Een keer ʼn jaar het die volk van Israel buite die tempel bymekaargekom vir die huttefees. Hierdie fees is soortgelyk aan die oesfees wat sommige kerke jaarliks vier. God se kinders is beveel om tydens hierdie fees met blydskap die Here te dank vir al sy seëninge en sorg. Dit was ook belangrik om gedurende hierdie tyd mededeelsaam te wees en na ander uit te reik.
Te dikwels is ons gedagtes propvol van ons eie probleme. In ons gejaagde lewens is dit so maklik om die Here baie laag op ons prioriteitslys te plaas. Ons moet onthou dat elke dag wat ons wakker word ʼn geskenk van God is.
Die almagtige God wat hemel en aarde gemaak het, en ons na sy beeld geskape het, het ook hierdie dag vir ons gemaak. Hy is ʼn groot en wonderbare God.
Hy roep sy kinders van geslag tot geslag om Hom te loof en eer. Nou is dit ons beurt en dit moet ons met blydskap vervul. Hy het ons lief en Hy het vir my en vir jou deur genade – en nie omdat ons dit verdien nie – juis nou op aarde geplaas om Hom te verheerlik. Ons is slegs vir ʼn tydperk hier geplaas, nie vir altyd nie! Ons behoort elke dag ons oorweldigende dankbaarheid en lof aan God te bewys omdat Hy ons so liefhet.