Bible Society of South Africa
Neville Turley

Tyd is kosbaar – Dag 3

Maak die beste gebruik van jou tyd

Bybelteks(te)

JOB 14

Job: Die mens se lewe is kort en vol onrus

1“Die mens, uit 'n vrou gebore, se lewe is kort en vol onrus.

EFESIËRS 5

15Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd.

EFESIËRS 5:15-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Kan julle nog onthou hoe stadig tyd verbygegaan het toe ons nog kinders was? Naweke het vir ewig geneem om aan te breek, om nie eens te praat van skoolvakansies, Kersfees, verjaarsdae en partytjies nie. Ons het die tyd verbygewens in ons begeerte om groot te word.

As jong volwassenes het die pas ʼn bietjie versnel. Ewe skielik was daar nie genoeg tyd om dit wat vir ons belangrik was te doen nie.

Hoe ouer ons word, hoe meer bewus word ons van tyd. Skielik is ons baie bewus daarvan dat indien ons tyd mors, ons ook ons geleenthede, hoop en drome vermors. Victor Hugo, die beroemde Franse skrywer wat onder andere Les Misérables geskryf het, sê: “Die lewe is kort, en ons maak dit nog korter deur die onverskillige manier waarop ons tyd mors.”

Hoe kan ons ons tyd die beste benut? Jesus leer ons dat ons moet fokus op die dinge wat saak maak: “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie” (Matteus 6:33-34).

Ons moet ons prioriteite in die regte volgorde plaas, en ook bepaal hoeveel tyd ons aan elkeen moet spandeer. Dan moet ons ook die dissipline hê om deur goeie beplanning by ons tydtafel te hou.

God het aan ons verskillende talente gegee, maar ons het een gawe gemeen – die gawe van tyd. Jesus was baie bewus van hoe ons ons tyd moet gebruik: “So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie” (Johannes 9:4).

Ons moet die gawe van tyd wat ons van God ontvang het, tot eer van die Hom gebruik. Mag God aan ons die genade skenk om dit te doen.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS