Tyd is kosbaar – Dag 2
Hoe moet Christene leef?
Bybelteks(te)
FILIPPENSE 2
Die voorbeeld van Jesus Christus
Daaglike stiltetyd om die aangesig van die Here in sy Woord te soek en om naby Hom te wees in gebed, is ook die beste tyd om volkome eerlik met jouself te wees.
Tyd gaan so vinnig verby. Vandag is die oudste wat jy al ooit was, maar ook die jongste wat jy ooit sal wees. Die realiteit van die lewe is dat ons in die hede moet leef eerder as om in die verlede vasgevang te wees of oor die toekoms te fantaseer. Dit maak nie saak hoe lank ons het om te leef nie, die een ding wat ons wel weet, is dat dit nie vir altyd is nie.
Ons Skrifgedeelte vir vandag fokus op hoe ons die res van ons lewe moet leef.
Ons is deel van ʼn gevalle wêreld, maar die goeie nuus is dat wanneer ons een is met Christus en in gemeenskap met die Heilige Gees, ons dieselfde gesindheid as ons Here Jesus kan ontwikkel. As mens was Hy nederig en gehoorsaam aan die wil van God en het Hom tot aan die einde van sy aardse lewe gedien. Die Bybel nooi ons uit om dieselfde te doen.
Ons moet nederig wees en ons oorgee aan die wil van God. Ons moet Hom verheerlik deur net soos Hy uit te reik na diegene in nood. Ons moet die liefde van God wat in ons is uitleef.
Dit is nie maklik nie en soms moet ʼn mens ʼn prys daarvoor betaal. Christene ly as gevolg van hulle oortuigings; baie Christene word weens hulle geloof gemartel, en so verruil hulle die kruis vir ʼn kroon, net soos hulle Verlosser ook gedoen het.
Baie ander (en miskien is jy een van hulle) word gespot omdat hulle glo.
Daar is geen beter tyd as nou om jou hart vir die Heilige Gees oop te maak nie. Laat Hom toe om besit van jou te neem en jou na die beeld van Christus te vorm. Hy sal jou die krag gee om ʼn Christelike lewe te lei en ʼn kroon sal jou beloning wees tot in ewigheid.