Tyd is kosbaar – Dag 1
Hy het ʼn plan
Bybelteks(te)
PREDIKER 3
Elke ding het sy vaste tyd
God het sy eie tydtafel en ons is almal deel van hierdie goddelike plan. Ons probeer dikwels egter om die Here in ʼn boks te plaas. Ons dink dat ons, ten spyte van ons feilbare denke, beter weet as ons Skepper en ons verwag dat Hy moet optree soos ons wil hê Hy moet.
Ons is baie bewus daarvan dat skokkende en onverklaarbare dinge toenemend met onskuldige slagoffers gebeur in ons gebroke wêreld. Waar is die Here wanneer hierdie tragedies plaasvind? Waar is Hy wanneer die dood, terminale siektes en egskeidings gesinne vernietig?
Dit is ʼn algemene verskynsel dat wanneer ʼn man of vrou byvoorbeeld sy of haar geliefde aan die dood afstaan, hulle dikwels irrasioneel kwaad is vir die een wat dood is. Te dikwels blameer mense die Here vir hulle verlies en hulle geloof ly daaronder.
Jesaja bied pastorale raad aan mense in sulke omstandighede: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:7-9).
In Desember 1939 was Brittanje in ʼn wanhopige toestand. Koning George VI het sy onderdane oor ʼn radio-uitsending toegespreek en almal gewaarsku oor die donker tye wat voorlê. Hy het hulle egter met hierdie woorde uit die gedig “The Gate of the Year” deur Minnie Louise Haskins bemoedig:
And I said to the man who stood at the gate of the year:
“Give me a light that I may tread safely into the unknown.”
And he replied:
“Go out into the darkness and put your hand into the Hand of God.
That shall be to you better than light, and safer than a known way.”
Mag die Heilige Gees elkeen van ons in staat stel om maar net ons hand in die Hand van God te plaas.