Bible Society of South Africa
Neville Turley

Tyd is kosbaar – Dag 17

Alles op die bestemde tyd

Bybelteks(te)

ROMEINE 5

6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe.

Vanaf die oomblik wat die alarm in die oggend afgaan om ons wakker te maak, word ons daaglikse roetine deur tyd gereguleer. Ons is afhanklik van horlosies, dagboeke, rekenaars, selfone – noem maar op. Dit alles help ons om ons tyd beter te kan benut.

Die mens het baie ontwikkel sedert die tyd toe hy stokkies, gedenknaalde en sonwysers moes gebruik om tyd aan te dui deur die skaduwee wat die son gooi.

Hoe besiger ons raak, hoe belangriker is dit dat ons by ons tydskedule hou. Tyd is kosbaar, tyd gaan verby en ons moet ons tyd effektief aanwend. Daarom het die mens toestelle ontwikkel wat hom in staat stel om tyd in kleiner en meer presiese eenhede te meet.

Ons moet eerder op die Here se tyd en plan vir ons lewens fokus as op ons tydskedules. Dit is wat Jesus gedoen het. Regdeur sy lewe hier op aarde was Hy gehoorsaam aan die plan en tyd wat sy Vader bepaal het.

In die Bybel is daar verskeie verwysings waar Hy dit baie duidelik stel. Vir sy broers het Hy gesê: “Vir My het die tyd nog nie gekom nie, maar vir julle is enige tyd reg” (Johannes 7:6). Aan Filippus en Andreas het Hy gesê: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word” (Johannes 12:23). In die tuin van Getsemane het Hy gebid: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil” (Markus 14:36).

Dit moet ons vertrekpunt wees, nie wat ons wil hê nie, maar wat Hy wil.

Onthou, ons is die goddeloses vir wie Christus gesterf het. Laat ons ons tyd hier op aarde gebruik om Hom te verheerlik.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS