Tyd is kosbaar – Dag 16
Die lewe is kort
Bybelteks(te)
PSALMS 90
Psalm 90 word aan Moses toegeskryf. Hy het geweet hoe kort ons tyd op aarde is en hoe vinnig dit verbygaan. Moses het hierdie gebed in die laaste jare van Israel se tog deur die woestyn gebid. Die ouer geslag wat saam met hom uit Egipte getrek het, was besig om uit te sterf (Numeri 14:21-23).
Ons kan almal met Moses saamstem. Die lewe op aarde is baie kort, net ʼn oogknip in vergelyking met die ewigheid. Moses eindig sy gebed op ʼn positiewe noot: “Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe: hou die werk van ons hande in stand, ja, die werk van ons hande, hou dit in stand.”
Nie een van ons weet hoe lank ons het om te leef nie. Dit is in die Here se hande. Al wat ons moet doen, is om te verseker dat ons tot sy eer leef in die tyd wat God aan ons gee.
As ons uitstel wat ons veronderstel is om vir Hom te doen, mag ons dalk nie genoeg tyd hê om getroue rentmeesters te wees nie. Dit is so maklik om só besig te raak dat ons geen tyd het vir ander sake nie.
Die skatryk skeepsmagnaat Aristotle Onassis (1906-1975) het ʼn plan gehad om meer tyd te bekom. Hy het gesê: “Moenie te veel slaap nie want dan gaan jy eendag as ʼn mislukking wakker skrik. As jy vir ʼn jaar lank drie ure per nag minder slaap, het jy ʼn ekstra maand en ʼn half om suksesvol te wees.”
As ons Onassis se plan volg, is ons miskien meer ure wakker, maar die onus rus steeds op ons om die tyd produktief in diens van God aan te wend.
Tyd wat vermors is, is vir altyd verlore. Jy kan dit nooit terugkry nie.
“Dit [die lewe] is gou verby, ons vlieg na ons einde toe,” sê Moses in hierdie psalm. Ons moet egter nooit uit die oog verloor dat ons weet waarheen ons op pad is en aan wie ons verantwoording doen nie.
Onthou: Eendag, dalk binnekort, moet ons aan ons Verlosser verantwoording doen oor hoe ons die tyd gebruik het wat Hy aan ons gegee het.