Tyd is kosbaar – Dag 18
Tyd om jou prioriteite uit te sorteer
Bybelteks(te)
FILIPPENSE 3
Paulus het reeds op ʼn vroeë ouderdom uitgeblink danksy die voorregte wat hy deur sy geboorte en opvoeding geniet het.
Paulus was geregtig op al die voordele en beskerming wat die Romeinse Ryk aan sy burgers verleen het omdat hy in Tarsus gebore is.
As ʼn Fariseër en Jood uit die stam van Benjamin was sy status en getuigskrifte onberispelik. Die ywer waarmee Paulus Christene op grond van die wet vervolg het, het vir hom ʼn glansryke toekoms verseker.
En toe, op pad na Damaskus, ontmoet hy die opgestane Here persoonlik. Dit het sy hele lewe verander.
Na sy ontmoeting met Jesus het al Paulus se voorregte en prestasies niks meer beteken nie. “Verwerplik” is die sterk woord wat hy gebruik wanneer hy dit wat hy bereik het, vergelyk met dit wat hy in Christus ontvang het (Filippense 3:5-8).
Paulus was geheel en al lojaal en toegewyd aan Jesus Christus. Sy voorbeeld moet ons inspireer. Miskien was jou bekering nie so dramaties soos dié van Paulus nie, maar êrens op jou lewenspad het jy die opgestane Jesus ontmoet en het jy op die ontmoeting gereageer.
Dit gebeur soms dat ons geestelike lewe glans verloor. Ons raak uitgeput. En tot die vreugde van die duiwel, verwaarloos ons ons gebedslewe, ons lees nie meer ons Bybel gereeld nie en ons bly sonder grondige redes weg van die kerkdienste.
Dit is wanneer ons weer moet terugkom op die regte pad.
Dit gaan dus nie daaroor dat jy jou prioriteite in orde moet kry nie. Daar is slegs een prioriteit – Jesus Christus. Hy moet altyd eerste kom en die fondament van jou geloof wees, die fondament waarop jou lewe gebou is.