Tyd is kosbaar – Dag 15
Hoogmoed is ʼn sonde
Bybelteks(te)
SPREUKE 6
In Spreuke 6:16-19 is “oë wat straal van hoogmoed” of, met ander woorde, “trots” boaan die lys van dinge wat die Here haat. Dit is geen verrassing nie.
Mense maak hulle skuldig aan hoogmoed wanneer hulle só seker is van hulle eie vermoëns dat hulle feitlik geen respek vir God of hulle medemens toon nie. Hulle wêreld draai om hulle eie ego’s. Hoogmoed is ʼn sonde wat herhaaldelik in die Bybel veroordeel word.
In sy eerste boek skryf Petrus: “Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want ‘God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.’ Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het” (1 Petrus 5:5-6).
Petrus praat hier uit eerstehandse ondervinding. Hy het geweet “op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val” (Spreuke 16:18). Toe Jesus op die punt gestaan het om gearresteer te word, was Petrus die een wat trots gesê het: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie” (Matteus 26:33).
Later ontken Petrus dat hy Jesus ooit geken het deur te vloek en te sweer (Matteus 26:74).
Dit is maklik om Petrus vir sy optrede te veroordeel, maar Jesus het dit nie gedoen nie, nie toe nie en ook nie later nie. Petrus het egter bitter berou gehad dat hy Jesus verloën het. Die Bybel sê: “En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil” (Matteus 26:75).
In Johannes 21:15-17 lees ons hoe Petrus die opgestane Jesus van sy liefde verseker, waarna die Goeie Herder sy skape aan hom toevertrou.
Die spreekwoord sê hoogmoed kom voor die val, maar vir diegene wat hulle verkeerde dade opreg bely is daar geen veroordeling nie, slegs liefde en opheffing.