Bible Society of South Africa

Troos uit die Woord – Dag 8

Ernstige siekte of dood

Bybelteks(te)

5Maak tog aan my bekend wanneer my einde sal wees, Here,

en hoeveel dae daar vir my oor is,

sodat ek sal weet wanneer my lewe verby is.

6Kyk, U het bepaal dat my dae min sal wees,

in u oë is my lewensduur byna niks.

Ag, alle mense is maar verganklik. Sela

7Die mens leef soos in 'n droom

en hy sloof hom af vir niks.

Hy gaar op, maar weet nie wie dit sal kry nie.

8Is daar nog hoop vir my, Here?

U is my enigste hoop.

PSALMS 39:5-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek het die Here lief

1Ek het die Here lief,

want Hy verhoor my smeekgebede.

2Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.

3Bande van die dood het my omsluit,

doodsangs het my aangegryp,

ek het benoud en bekommerd geword.

4Toe het ek die Naam van die Here aangeroep:

“Here, red my tog!”

5Die Here is genadig en regverdig,

ons God ontferm Hom oor ons.

6Die Here beskerm die hulpeloses:

ek was magteloos, maar Hy het my gered.

PSALMS 116:1-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gee U my tog krag!

1'n Gebed van Dawid.

Luister tog na my, Here, verhoor my gebed,

want ek is hulpeloos en arm.

2Beskerm my, want ek is u troue dienaar,

red my, want U is my God, op U vertrou ek.

3Wees my genadig, Here,

ek roep die hele dag deur na U.

4Maak my bly, Here,

ek hunker na U.

5U is goed, Here, U vergewe altyd weer,

U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp.

6Luister na my gebed, Here,

gee tog ag op my smeekgebed.

7Op die dag van my nood roep ek na U,

U sal my gebed verhoor.

8Daar is geen god soos U nie, Here,

niks kan met u werk vergelyk word nie.

9U het al die nasies gemaak;

hulle sal voor U kom buig, Here,

en aan u Naam die eer gee,

10want U is groot en doen magtige dade,

U alleen is God.

11Leer my u pad, Here,

ek wil wandel in u waarheid;

leer my U met toewyding dien.

12Met my hele hart sal ek U prys, Here my God,

u Naam altyd eer,

13want u liefde vir my was groot:

uit die dieptes van die dood het U my gered.

PSALMS 86:1-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Laat my gebed nie tevergeefs wees nie

1'n Lied. 'n Psalm van die Koragiete. Vir die koorleier: met fluitspel. 'n Gedig van Heman die Esragiet.

2Here my God wat my altyd help,

ek roep elke dag om hulp,

elke nag bid ek tot U.

3Laat my gebed nie tevergeefs wees nie,

hoor my geroep.

4Die swaarkry het vir my te veel geword:

ek vat al aan die doderyk,

5ek staan al met die een voet in die graf,

ek het geen krag meer nie.

6Dit is asof ek al tussen die dooies is,

tussen dié wat gesneuwel het en in hulle grafte lê,

dié aan wie U nie meer dink nie

en van wie U u hand teruggetrek het.

7U het my onder in die put laat beland,

in diepe duisternis.

8U gramskap rus swaar op my,

U laat al u golwe oor my breek. Sela

9U laat my bekendes ver van my af staan

en maak my vir hulle iets afskuweliks;

ek sit vasgevang en kan nie uitkom nie.

10My oë is al dof van ellende;

die hele dag deur roep ek na U, Here,

en steek ek my hande in gebed na U uit.

11Sal U met dooies 'n wonder laat gebeur?

Kan gestorwenes opstaan en U loof? Sela

12Word daar in die graf vertel van u troue liefde?

Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel?

13Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood,

u redding in die land van vergetelheid?

14Ek roep na U om hulp, Here,

vroeg in die môre al bid ek tot U.

15Waarom verstoot U my, Here,

waarom trek U U van my af terug?

16Ek ly swaar, ek kwyn al weg van my jeug af.

Dit is 'n swaar las waarmee U my teister.

Ek weet geen raad meer nie.

17U toorn rus op my,

U tref my met skrik en vernietig my.

18Dit bedreig my heeldag soos vloedwater,

dit sak op my toe van alle kante af.

19U laat my vriende en my bure ver van my af staan,

die duisternis van die dood is my geselskap.

U is daar van geslag tot geslag

1Gebed van 'n hulpelose wanneer dit met hom sleg gaan en hy sy klagte uitstort voor die Here.

2Here, luister tog na my gebed,

hoor tog my geroep om hulp!

3Moet U tog nie van my afsydig hou

nou dat ek in die nood is nie.

Luister tog na my wanneer ek U aanroep,

verhoor tog gou my gebed,

4want vir my verdwyn die dae soos rook.

My liggaam brand soos vuur,

5ek is verskroei en uitgedroog soos gras,

ek het alle eetlus verloor.

6Ek het net vel en been geword

van al die pyn.

7Ek voel so verlate soos 'n pelikaan in 'n woestyn,

soos 'n uil tussen murasies.

8As ek wakker word,

voel ek soos 'n eensame voël op 'n huis se dak.

9Die dae deur verneder my vyande my.

Dié wat my so verkleineer, gebruik my naam as 'n vloekwoord.

10As is my daaglikse brood;

wat ek drink, is met my trane gemeng,

11want u toorn en u gramskap het my getref,

U het my verwerp en weggegooi.

12Soos 'n skaduwee wat lank word, is my lewe naby sy einde,

ek is soos verdroogde gras.

13U, Here, U heers vir altyd,

U is daar van geslag tot geslag.

14U sal ingryp en U oor Sion ontferm,

want die bestemde tyd het aangebreek,

die tyd om hom genadig te wees.

15Ons, u dienaars, het elke klip van Sion lief,

ons is bewoë oor sy puin.

16Die nasies sal die Here vrees

en al die konings van die aarde sy mag,

17want die Here gaan Sion weer opbou

wanneer Hy in sy mag verskyn.

18Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het,

Hy sal hulle gebed nie verag nie.

19Laat dit opgeteken word vir die geslag wat kom,

sodat die nuut geskape volk die Here kan loof.

20Hy het uit sy heilige woning na onder gekyk

en uit die hemel gesien wat op die aarde gebeur,

21die gekerm van die gevangenes gehoor

en dié wat naby die dood was, bevry.

22Hulle sal die Naam van die Here in Sion besing

en sy lof in Jerusalem

23wanneer die volke en die koninkryke bymekaarkom

om die Here te dien.

24Hy het my krag gebreek toe ek nog jonk was,

Hy het my lewe verkort.

25Ek sê: “My God, moet my nie in die fleur van my lewe wegneem nie!

U is daar deur die geslagte heen.

26In die voortyd al het U die aarde gevestig

en die hemele met u eie hande gemaak.

27Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly.

Soos 'n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan,

soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn.

28Maar U bly dieselfde,

u jare het geen einde nie.”

29Ons nageslag sal die land bly bewoon,

ons nakomelinge sal veilig voor U woon.

U weet wat ek moes deurmaak

1'n Gedig van Dawid, na aanleiding van sy verblyf in die spelonk. 'n Gebed.

2Ek roep na die Here om hulp,

ek smeek die Here om genade,

3ek stort my klag voor Hom uit

en vertel Hom van my nood.

4Ek het alle moed verloor,

U weet wat ek moes deurmaak.

Op die pad waar ek loop,

het hulle vir my 'n strik gestel.

5Ek soek hulp, maar niemand wil help nie,

daar is vir my geen vlugkans nie

en niemand gee vir my om nie.

6Ek roep na U om hulp, Here,

ek sê: “U is my toevlug,

buiten U het ek geen deel in die land van die lewendes nie!

7Luister tog na my hulpgeroep,

want ek is magteloos.

Red my van my vervolgers,

want hulle is te sterk vir my.

8Bevry my uit my gevangenskap,

dat ek u Naam kan loof.

Die regverdiges sal dankbaar om my kom staan

wanneer U aan my goed doen.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS