Bible Society of South Africa

Troos uit die Woord – Dag 26

Redding van God

Bybelteks(te)

2By U, Here, skuil ek.

Laat my tog nooit teleurgestel staan nie!

Bevry my, want U is getrou.

3Luister na my, red my tog gou.

Wees vir my 'n rots om na toe te vlug,

'n bergvesting om my te red.

4Ja, U is my rots en my bergvesting,

ter wille van u Naam sal U my voorgaan en my lei.

5Bevry my uit die vangnet wat hulle vir my gestel het,

want U is my toevlug.

6In u hande gee ek my lewe oor,

want, Here, troue God, U het my vrygemaak.

PSALMS 31:2-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

16My tye is in u hand.

Red my uit die hande van my vyande en vervolgers!

PSALMS 31:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

2Ek het gesmag na die hulp van die Here.

Hy het na my toe afgebuig

en my hulpgeroep gehoor.

3Hy het my uitgetrek uit die put van die dood,

uit die slymerige modder,

my op 'n rots laat staan

en my weer op vaste grond laat loop.

4Hy het my 'n nuwe lied in die mond gelê,

'n loflied vir ons God.

Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring,

hulle sal op die Here vertrou!

PSALMS 40:2-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

12in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.

Wat kan 'n mens aan my doen?

13Ek moet my geloftes aan U nakom, o God,

ek wil U met dankoffers betaal,

14want U het my van die dood gered,

my voet nie laat struikel nie,

en met God by my kon ek my pad aanhou loop

en die lewenslig bly sien.

PSALMS 56:12-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gee U my tog krag!

1'n Gebed van Dawid.

Luister tog na my, Here, verhoor my gebed,

want ek is hulpeloos en arm.

2Beskerm my, want ek is u troue dienaar,

red my, want U is my God, op U vertrou ek.

3Wees my genadig, Here,

ek roep die hele dag deur na U.

4Maak my bly, Here,

ek hunker na U.

5U is goed, Here, U vergewe altyd weer,

U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp.

6Luister na my gebed, Here,

gee tog ag op my smeekgebed.

7Op die dag van my nood roep ek na U,

U sal my gebed verhoor.

8Daar is geen god soos U nie, Here,

niks kan met u werk vergelyk word nie.

9U het al die nasies gemaak;

hulle sal voor U kom buig, Here,

en aan u Naam die eer gee,

10want U is groot en doen magtige dade,

U alleen is God.

11Leer my u pad, Here,

ek wil wandel in u waarheid;

leer my U met toewyding dien.

12Met my hele hart sal ek U prys, Here my God,

u Naam altyd eer,

13want u liefde vir my was groot:

uit die dieptes van die dood het U my gered.

14Dit is hovaardige mense wat my aanval, o God,

'n bende geweldenaars wat my wil doodmaak,

mense wat met U nie rekening hou nie.

15U, Here, is 'n barmhartige en genadige God,

lankmoedig, vol liefde en trou.

16Sien my, u dienaar van my geboorte af, in genade aan,

gee U my tog krag en red my.

17Maak my 'n voorbeeld van u goedheid,

sodat dié wat my haat, verleë sal moet toesien

dat U, Here, my help en vir my uitkoms gee.

Vir altyd sal ek U loof

1'n Psalm. 'n Lied vir die inwyding van die tempel. Van Dawid.

2Ek wil u lof verkondig, Here, want U het my gered

en my vyande nie laat bly wees oor my nie.

3Here my God, ek het na U geroep om hulp

en U het my gesond gemaak.

4Here, U het my gered van die doderyk,

my aan die lewe gehou toe ek al op pad was na die dood toe.

5Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien,

loof sy heilige Naam!

6Waarlik, sy toorn duur net 'n oomblik,

maar sy goedheid lewenslank.

Gisteraand was daar nog trane

en vanmôre lag ek al weer.

7Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê:

“Niks sal my ooit laat wankel nie.”

8Deur u goedheid het U my op 'n veilige berg laat staan, Here.

Maar toe U U aan my onttrek het,

het ek baie bang geword.

9Ek het na U geroep, Here.

Ek het U om genade gesmeek:

10“Watter voordeel is daar in my ondergang

as ek die graf moet ingaan?

Kan stof U loof?

Kan dit u trou verkondig?

11Luister, Here, en wees my genadig!

Help my, Here!”

12Ek was in die rou,

maar U het my van vreugde laat dans.

U het my rouklere uitgetrek

en vir my feesklere aangetrek.

13Daarom sal ek sing tot u eer;

ek sal nie stilbly nie.

Here my God, vir altyd sal ek U loof!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS