Bible Society of South Africa

Troos uit die Woord – Dag 25

Ouderdom

Bybelteks(te)

4My God, bevry my uit die hand van goddeloses,

uit die greep van skurke en verdrukkers,

5want U, Here, U is my hoop,

op U, Here, het ek van jongs af vertrou.

6U is my hulp van my geboorte af,

reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm.

U loof ek gedurigdeur.

7Ek is vir baie 'n wonder,

want U is my veilige toevlug.

8Ek besing u lof en u roem gedurigdeur.

9Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie,

moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie.

PSALMS 71:4-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome,

soos hoë seders op die Libanon.

14Hulle vind hulle krag in die huis van die Here

en groei op in die tempel van ons God.

15Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag.

Hulle sal fris en lewenskragtig wees.

16So sal blyk dat die Here regverdig is,

dat daar by Hom geen onreg is nie.

Hy is my rots.

PSALMS 92:13-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

16Ek kom om u magtige dade te prys, Here my God,

die verlossingswerk wat net U kan doen.

17U het my van jongs af onderrig, o God,

en ek getuig nou nog van u kragtige dade.

18Nou dat ek oud en grys geword het,

moet U my tog nie alleen laat nie, o God,

dat ek nog aan die geslagte wat kom,

kan vertel van u werk en u mag.

19U verlossingswerk, o God, is oneindig groot;

groot is die dinge wat U gedoen het!

Wie is soos U, o God?

20U het talle benoude ervaringe oor my gebring,

maar elke keer weer my lewe gered,

my elke keer weer weggeruk uit die mag van die dood.

PSALMS 71:16-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Van ewigheid tot ewigheid is U God

1'n Gebed van Moses, die man van God.

Here, U was vir ons 'n toevlug

van geslag tot geslag.

2Voordat die berge gebore is,

voordat U die wêreld voortgebring het,

ja, van ewigheid tot ewigheid is U God!

3U laat die mens sterwe:

U sê net: “Word weer stof!”

4Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is,

soos een enkele wagbeurt in die nag.

5U maak 'n einde aan 'n mens,

hy gaan die doodslaap in.

Hy is soos gras wat in die môre afgesny word:

6in die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny

en teen die aand is dit verlep en dit verdroog.

7Ons vergaan onder u toorn,

ons gaan te gronde onder u gramskap.

8U sien ons oortredinge raak,

U bring die sondes wat ons wou wegsteek, aan die lig.

9Onder u toorn vlieg ons dae

en skiet ons jare verby soos 'n gedagte.

10Ons lewe maar sewentig jaar,

of, as ons baie sterk is, tagtig,

en dié is vol swaarkry en leed.

Dit is gou verby,

ons vlieg na ons einde toe.

11Wie ken die krag van u toorn beter as u dienaars?

Wie ken u gramskap beter?

12Leer ons ons dae so gebruik

dat ons wysheid bekom.

13Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom?

Ontferm U tog oor ons.

14Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed,

dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees.

15Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het,

soveel jare as dié waarin ons gely het,

gee ons soveel jare van blydskap.

16Laat u werk vir ons duidelik word

en u grootheid vir ons kinders.

17Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe:

hou die werk van ons hande in stand,

ja, die werk van ons hande, hou dit in stand.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS