Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 9

Spreuke 2:20-22

Bybelteks(te)

20Loop jy liewer die pad van die goeie mense,

bly op die paaie van die regverdiges,

21want die opregtes sal die land bly bewoon,

dié wat onberispelik leef, sal ongehinderd gelaat word,

22maar slegte mense sal weggevee word uit die land,

bedrieërs sal uitgeroei word.

SPREUKE 2:20-22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die pa werk in sy onderrig steeds met die idee van twee paaie. Die pad van goddeloosheid en losbandigheid eindig in die dood. Die pad van opregtheid en integriteit lei na die lewe.

Dit het aan die een kant te make met die tipe mense na wie jy moet luister, veral na gesagsfigure en rolmodelle in jou lewe wat goeie mense is, regverdig, opreg en onberispelik (vgl Spr 2:1, 9, 20, 21). Sulke mense moet jy uitkies, na hulle luister, en hulle navolg.

Natuurlik sluit dit ook mense in na wie jy nie moet luister nie: mense wat verkeerde dinge verkondig (vgl Spr 2:12), mense wat die regte paaie verlaat (vgl Spr 2:13), mense wat slegte dinge doen, en wie se paaie krom is (vgl Spr 2:14-15), sowel as die “slegte vrou” wat ’n simbool van enige buite-egtelike verhouding is, en natuurlik ook op ’n “slegte man” van toepassing is (vgl Spr 2:16-19).

Aan die ander kant sluit dit ook dinge in waarna jy moet luister, die inhoud wat Spreuke aanbeveel. Let op hoe Spreuke nie net ’n eenmalige luister na die wysheid aanbeveel nie, maar ’n onderskeidende proses, om jou in te span om te verstaan (vgl Spr 2:2), om insig en gesonde begrip (common sense) te soek (vgl Spr 2:2).

Maar Spreuke wil ook hê dat die lewenstyl van mense wat hierdie inhoud uitleef, nagevolg moet word (eerlikheid – Spr 2:7; onberispelikheid – Spr 2:7, 21; getrouheid – Spr 2:8; regverdigheid en billikheid – Spr 2:9,20; oordeelkundigheid en verstandigheid – Spr 2:11; goedheid – Spr 2:20; opregtheid – Spr 2:21). Dit is die inhoud van die tipe wysheid wat nagevolg moet word. Só word jyself natuurlik ook ’n voorbeeld wat ander kan navolg.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS