Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 8

Spreuke 2:9-19

Bybelteks(te)

9As jy aanneem wat ek jou sê, sal jy insig kry

in wat regverdig en reg en billik is

en sal jy op die goeie pad bly.

10Die wysheid sal sy plek in jou lewe inneem,

kennis sal vir jou iets aangenaams word,

11oordeelkundigheid sal oor jou wag hou

en verstandigheid sal jou bewaak.

12Dit sal jou weghou van die verkeerde pad af

en van mense af wat verkeerde dinge verkondig,

13van dié af wat die regte paaie verlaat

om op donker paaie te loop.

14Hulle verheug hulle daarin om te doen wat sleg is

en juig die wandade van die slegte mens toe;

15hulle paaie is krom

en hulle koers is verkeerd.

16Die wysheid sal jou weghou van die slegte vrou af,

die vrou met die verleidelike praatjies,

17wat haar eie man verlaat

en die verbond van haar God vergeet het.

18Haar huis lei 'n mens na die dood toe,

haar spore bring jou by die dooies uit.

19Mense wat na haar toe gaan, kom nie een terug nie;

hulle kom nie weer op die paaie van die lewe nie.

SPREUKE 2:9-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die pa herinner sy seun in die tweede lewensles daaraan dat wysheid kom na dié wat eerlik en onberispelik lewe. Dit is oor hulle pad wat die Wysheid die wag hou. Die Wysheid hou nie wag oor die paaie van dié wat verkeerde dinge verkondig nie; diegene wat die regte paaie verlaat en kies om donker paaie te loop; diegene wat kies om die wandade van slegte mense toejuig.

Daar is dus hierdie twee paaie. Die keuse vir die pad van gehoorsaamheid word beloon met die gawe van wysheid. Die keuse vir die pad van ongehoorsaamheid word beloon met die oorgawe aan dwaasheid.

Dit is ook hoe God se beskerming werk. Beskerming is nie net iets wat God gee sonder jou medewerking nie, maar ook iets wat gebeur deur die manier waarop jy lewe. Wanneer wysheid en kennis begin om jou lewe te vorm en te verryk, wanneer oordeelkundigheid en verstandigheid begin om jou lewe te beskerm en begelei, neem sy wysheid jou weg van die verkeerde dinge en mense (gee beskerming) en lei jou na die goeie, regverdige, opregte en onberispelike paaie wat volhoubare en vreugdevolle lewe moontlik maak (gee begeleiding).

Die keuse hiervoor is iets wat jou eie verantwoordelikheid is. Dit is nie iets wat iemand anders vir jou kan doen nie. Dit is selfs nie iets wat God sommer sonder jou medewerking kan doen nie, hoewel daar natuurlik ook ’n genade-kant van sy betrokkenheid by ons is.

Wysheid is dus aan die een kant ‘n gawe van God wat jy uit sy hand ontvang en ontgin in al sy fasette, maar ook iets aan die ander kant wat jy persoonlik moet toepas en ontplooi in jou praktiese lewe. Dit is in die ontvangs en in die ontplooiing, die vertroue op God en die persoonlike verantwoordelikheid neem – in jou soeke na oordeelkundigheid en verstandigheid – wat die beskerming en begeleiding gebeur.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS