Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 10

Spreuke 3:1-6

Bybelteks(te)

1My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie,

hou vas aan wat ek jou voorskryf,

2want dit sal vir jou 'n lang lewe verseker,

dit sal maak dat jy 'n vol lewe het.

3Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie;

leef daarmee saam,

maak dit 'n deel van jou lewe.

4So sal jy guns verwerf en byval vind

by God en mens.

5Vertrou volkome op die Here

en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.

6Ken Hom in alles wat jy doen

en Hy sal jou die regte pad laat loop.

SPREUKE 3:1-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die pa gaan voort om uit te brei op die idee dat daar ’n “regte pad” is om op te loop, en ’n “verkeerde pad.” Iets wat ook baie sterk in die res van Spreuke beklemtoon word. Alles moet daarom in die stryd gewerp word om die regte pad te vind. Niks moet jou daarvan weerhou nie. En alles moontlik moet gedoen word om die verkeerde pad te vermy.

In hoofstuk 3 gee die pa nou ’n verdere twee “lewenslesse” aan sy seun wat dit verder inskerp:

  • Hy gee praktiese raad oor hoe om God te vertrou en in alles te ken (Spr 3:1-12).
  • Hy gee praktiese voorbeelde van hoe dit lyk om die “regte pad” te volg (Spr 3:13-35).

In die “derde lewensles” van die pa aan sy seun fokus hy op die frase: “liefde en trou.” Dit kom ooreen met Paulus se opdrag dat ons in liefde by die waarheid moet bly (Ef 4:15). Troue liefde moet ons gedagtes en gedrag stempel.

Die inhoud is kort en kragtig: “Vertrou God en ken Hom in alles” (Spr 3:5-6). Dit is dieselfde grondbeginsels as wat nou herhaaldelik in die vorige twee hoofstukke gegee is, vertroue en verantwoordelikheid.

Let op hoe hierdie vertroue en verantwoordelikheid uitgespel word met twee kernwoorde: onthou (moenie vergeet nie) en vashou. Dit is waarin die geheim van jou hele geestelike lewe opgesluit lê.

Aan die een kant moet die verlossing, versorging en bevestiging van die Here in die verlede telkens in herinnering geroep word. Moet dit nie vergeet nie, sê die pa vir sy seun.

Aan die ander kant moet vasgehou word aan die wyse riglyne wat God uitspel vir die tipe lewenstyl wat nie net sy goedkeuring wegdra nie, maar die toets van die tyd deurstaan het.

Die derde lewensles word opgedeel in ses aspekte om die wyse lewenstyl en die voordeel wat dit bring, uit te spel. Elke aspek word in twee verse elk uitgespel – drie positief, drie negatief – telkens met ‘n voordeel daaraan gekoppel.

Die eerste drie aspekte is soos volg:

  • Spreuke 3:1-2 – Moenie vergeet wat jou pa jou leer nie. Dit lei tot ’n lang en vol lewe.
  • Spreuke 3:3-4 – Moenie dat liefde en trou ontbreek nie (“skryf dit op die tafel van jou hart” – 1933/53-vertaling). Dit laat jou guns verwerf en byval vind by God en mens.
  • Spreuke 3:5-6 – Vertrou volkome (“met jou hele hart” – 1933/53-vertaling) op die Here en ken Hom in alles wat jy doen. Dit laat God toe om jou op die regte pad te laat loop.

Vers 5 en 6 kan jou lewensmotto word: “Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS