Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 7

Spreuke 2:1-8

Bybelteks(te)

1My seun, neem aan wat ek jou sê,

maak wat ek jou voorskryf jou eie,

2hou jou ore oop vir die wysheid,

span jou in om te verstaan.

3Roep insig by,

vra na gesonde begrip.

4Soek dit soos jy silwer sou soek,

spoor dit op soos 'n verborge skat.

5Dan sal jy weet hoe om die Here te dien,

sal jy ontdek wat dit is om God te ken.

6Dit is die Here wat die wysheid gee,

uit sy mond kom die kennis en die insig.

7Hy laat eerlike mense sukses behaal

en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe.

8Hy sien toe dat reg geskied,

Hy hou wag oor die pad van sy troue dienaars.

SPREUKE 2:1-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Daar is twee maniere waarop die Bybel oor die verkryging van wysheid praat.

  • God gee wysheid vir dié wat Hom vertrou. God werk vir hulle selfs wanneer hulle slaap (Ps 127:2 – ’n Psalm van Salomo!).
  • God gee wysheid in die doelgerigte soeke na wysheid, ‘n verantwoordelikheid wat ons nie kan ontwyk nie. Om die waarheid te sê, dit is meermale hoe dit werk.

Dit is van laasgenoemde doelgerigte soektog wat Spreuke hier mee begin. Daarom sê die pa vir sy seun: hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in, roep en vra, soek en jy sal dit opspoor.

Die pa moedig dus sy seun in die “tweede lewensles” aan om wysheid met gespitste ore te soek, want dán sal hy agterkom dat God wysheid uitdeel, dat die eerste manier hoe ‘n mens wysheid bekom ook vir hom waar sal word. Die Here sal hom nie teleurstel nie. Wysheid is ’n gawe van God, saam met sukses, beskerming, en regverdigheid. Dan sal hy op die regte pad kan bly.

Dit is iets wat Jesus ook later sterk sou beklemtoon in sy bediening en onderrig, soos pragtig geïllustreer in die bekende uitspraak in die Bergrede: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt 7:7-8).

Interessant is dat Jesus hierdie gawe van wysheid met die gawe van die Heilige Gees verbind, die goeie gawe van God (Luk 11:13), net soos wat dit hier in Spreuke 2 gedoen word. En Jakobus sê dat ’n mens wysheid van God kan afbid (Jak 1:5). Watter belofte!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS