Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 48

Spreuke 10:1-2

Bybelteks(te)

1Spreuke van Salomo.

'n Wyse seun maak sy vader en moeder bly;

'n dwase seun maak hulle hartseer.

2Goed wat deur onreg bekom is, bring geen voordeel nie;

om te lewe volgens die wil van God,

red 'n mens van die dood.

SPREUKE 10:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die 10 lewenslesse wat die pa aan sy seun gegee het, die twee paaie waarvan hy hom geleer het (Spr 1-8), en die twee vroue waaroor die pa hom geleer het, Vrou Wysheid en Vrou Dwaasheid (Spr 9), word nou in Spreuke 10-31 aangevul met letterlik honderde lewenswyshede wat pas by die keuse vir die regte pad, by die keuse om te luister na Vrou Wysheid.

Hierdie wyshede is opgesom in ongeveer 562 spreuke, gesegdes, en wyshede vir ’n wyse lewe. Die spreuke is in 6 bundels saamgevoeg wat onderskeidelik met:

  • Salomo (2 bundels met onderskeidelik ongeveer 375 en 137 spreuke elk),
  • die Wyses (2 bundels met onderskeidelik 30 en 5 spreuke elk),
  • Agur (12 spreuke, saam met ’n paar vrae en ’n gebed), en
  • Lemuel se ma (3 uitgebreide spreuke) verbind word.

Die eerste bundel van Salomo (Spr 10:1-22:16) sluit baie nou by die inleiding in die eerste nege hoofstukke aan, met Spreuke 10:1 wat sowel by die tema van wysheid en dwaasheid, as by die tema van ’n gesprek tussen ouers (pa en ma) met hulle kind aansluit.

Interessant is die positiewe noot waarop dit begin, iets wat regdeur hierdie bundel volgehou sal word.

’n Mens kan die eerste bundel in twee dele verdeel:

  1. 1.Spreuke 10:1-15:29 waarin veral met antiteses gewerk word. Onthou, antiteses is teenstellings waar die spreuk uit twee teenoorgestelde begrippe langs mekaar bestaan. Byvoorbeeld in Spreuke 10:4 kry jy die stelling: “’n Mens wat nie sy hande uit sy mou steek nie, word arm.” En dan volg die tweede deel, die teenstelling: “Dit is vlyt wat ryk maak.”
  2. 2.Spreuke 15:30-22:16 waarin veral met sinteses gewerk word. Onthou, sinteses is verbindings of samevoegings van afsonderlike elemente tot ‘n nuwe geheel. Byvoorbeeld in Spreuke 15:30 kry jy die stelling: “Stralende oë bring blydskap”. En dan volg die tweede deel, die ooreenstemmende bevestigende stelling: “Goeie tyding verkwik ’n mens.”

Vers 1 brei uit oor die effek wat kinders op ouers het. Vers 2 brei uit oor die duursaamheid van ’n eerlike en opregte lewe.

Peterson vertaal die eerste deel van vers 2 só: “An honest life is immortal” (The Message). Dit sê vir ons dat ’n lewe wat opreg en eerlik geleef word, ’n ingeboude duursaamheid het.

Die oorspronklike Hebreeuse woord wat hier gebruik word, is geregtigheid, wat in die 1983-vertaling vertaal is met “volgens die wil van God”. Die woord het egter meer die betekenis van eerlikheid in kontras met die oneerlike en onregverdige maniere waarop goddeloses hulle welvaart bekom, soos in die eerste deel van die vers uitgespel is. Skatte verwerf sonder God bring dus rykdom sonder langtermyn voordele.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS