Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 47

Spreuke 9:13-18

Bybelteks(te)

13Dwaasheid is soos 'n vrou wat luidrugtig bly klets,

stadig van begrip en sonder kennis van sake.

14Sy sit by haar voordeur,

haar stoel staan op die hoogste plek in die stad,

15en sy roep na dié wat verbykom,

elkeen besig om sy gang te gaan:

16“Draai af hiernatoe, almal wat nog onervare is!”

Sy sê vir dié wat kennis kortkom:

17“Gesteelde water is soet,

kos wat stilletjies geëet word, is lekker!”

18Dié wat na haar luister,

besef nie dat die dood self daar wag nie,

dat dié wat hulle deur haar laat nooi het,

klaar diep in die doderyk is nie.

SPREUKE 9:13-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vrou Wysheid nooi ons uit na ‘n lewe wat afskeid neem van onkunde en die pad van insig te omhels (Spr 9:1-6). Vrou Dwaasheid nooi ons daarenteen uit na ‘n lewe van gesteelde genot sonder verantwoordelikheid wat eindig in die dood (Spr 9:13-18).

Let op hoe vrou Dwaasheid vir vrou Wysheid naboots in die banket wat vir die onervare onkundiges gehou word, maar op ‘n wyse wat herinner aan die verleidelike gedrag van die slegte vrou van vroeër. Let op hoe die verleiding van haar aanbod lê in die gesteelde karakter daarvan – jy hoef jou nie in te span om dit te verkry nie – sowel as in die verborge aard daarvan – dit is iets wat jy stilletjies doen, waar niemand kan sien of beperkings kan plaas nie.

Die einde van dié pad is egter die dood, omdat daar geen verantwoordelikheid of verantwoordbaarheid ingebou is in die verkryging van hierdie kennis nie.

Dit onderstreep op ‘n waarskuwende manier die noodsaak daarvan om versigtig te wees met die uitdeel van kennis bv in ‘n leerervaring, sonder om ‘n worsteling daarmee, en ‘n toetsing daarvan, in te bou.

‘n Mens moet self werk aan dít wat jy leer, en jy moet op een of ander manier iets daarvan weergee. Dán het dit deel van jou menswees en lewenswyse geword. Anders is dit plagiaat en oppervlakkig by wyse van spreke.

Die tafel is nou gedek om na die spreuke te begin luister, daaroor diep na te dink, en dit deel van jou lewe te maak.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS